’n Operasie teen geweld en misdaad is die afgelope naweek deur verskeie rolspelers in die Bothasig- en omliggende gebiede uitgevoer.
Die gesamentlike operasie, onder leiding van die Bothasig-polisie, is ondersteun deur verskeie private sekerheidsmaatskappye, die Stad Kaapstad se wetstoepassingseenheid, buurtwagte sowel as die gemeenskapspolisiëringsforum.
Die operasie is Vrydag 26 Februarie onder meer in Bothasig, Edgemead, Richwood en Burgundy Estate uitgevoer.
Lt.kol. Patrick Jacobs, stasiebevelvoerder, het omstreeks 21:00 voor die aand se verrigtinge almal by die polisiekantoor verwelkom en die plan van aksie uiteengesit. Hy het uitgewys dat dit die eerste keer in ’n lang tyd is dat so ’n groot aantal rolspelers – sowat 125 – aan ’n operasie deelneem.
“Dit is ’n groot gebied wat ons gaan dek. Ons missie is om misdaad soos rowe, huisbrake en diefstal in die gebied te stabiliseer,” het hy kort voor die vertrek met almal gedeel.
Jacobs het ook aangedui dat hy later die aand na 35 Eskader (Ysterplaat-lugmagbasis) sou vertrek waar hy aan boord van ’n helikopter sou gaan waarmee hulle later die aand die N7-snelweg sou patrolleer.
“Onthou, jul eie veiligheid is prioriteit. Indien julle verdagtes in hegtenis neem, moenie die mense aanrand nie,” was van Jacobs se laaste instruksies.
Ná afloop daarvan en nadat ’n gebed opgesê is, het die rolspelers na hul onderskeie punte vertrek.
Later die aand is onder meer ’n reeks verdagte voertuie van die pad getrek en ondersoek, en daar is ook besoek afgelê by kroeë om seker te maak inperkings-regulasies word toegepas.