Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Modderchaos by stembus in D’Urbanvale

Kiesers in D’Urbanvale, waaronder talle bejaardes, moes in modder en ’n vuil, klein tent staan en stem nadat onderhandelinge oor die kontrak tussen die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) en Reddam House oënskynlik versuur het.

Plakkate, stukke karton en ’n swartsak met rommel het vir twee dae besaai gelê in die parkie, waar die stemlokaal tydelik in ’n tent opgerig is.

Sowat 2 217 mense was geregistreer om in D’Urbanvale te stem en het tevore in Reddam House se skoolsaal gestem.

Volgens Theresa Uys, raadslid vir wyk 112, wat D’Urbanvale insluit, wou Reddam House hê dat ’n klousule oor aanspreeklikheid uit die kontrak verwyder word, maar die OVK het geweier.

Reddam House het wel ingestem dat die tent op sy parkeergebied opgerig mag word, maar die OVK het voortgegaan en dit in die speelparkie langs die vleiland opgerig.

Kiesers het vroegoggend onder sambrele tougestaan toe swaar reën uitgesak het en die area tot ’n modderpappery vertrap is.

Stukke karton is op die grond by die twee stembusse vir die modder neergesit. Die stembus het volgens ’n woordvoerder van D’Secure, wie se kantore reg oorkant die stembus was, om ongeveer 19:00 uit elektrisiteit geraak en moes van hul elektrisiteit gebruik. Daar was ook geen toiletgeriewe vir kiesers. Volgens die woordvoerder is die rommel eers Vrydag laatmiddag verwyder – twee dae na die verkiesing.

Uys het gesê sy het die kiesers se besware by die OVK-areakantoor aangemeld.

Barry Nieuwoudt, skoolhoof van Reddam House, het by navraag aan TygerBurger gesê die skool was meer as gewillig om die OVK toe te laat om sy fasiliteite te gebruik, mits die klousule oor aanspreeklikheid uit die ooreenkoms verwyder word.

“Die OVK het na verskeie e-posse hieroor nie reageer nie en het die skool eers weer die dag voor die verkiesing gekontak.

“Ek wil ons skool se gewilligheid beklemtoon om ons fasiliteite beskikbaar te stel mits die klousule verwyder is. Die raadslid was tevrede om ons onderdakfasiliteit – met toegang tot elektrisiteit – te gebruik en dit is so gereël. Tot ons verstomming het ons die dag van die verkiesing ontdek hulle het nie van ons fasiliteit gebruik gemaak nie en het ons ook nie daaroor ingelig nie,” het Nieuwoudt gesê.

Courtney Sampson, provinsiale verkiesingsbeampte in die Wes-Kaap, het gesê hy wil nie kommentaar lewer oor die kontrakgeskil met Reddam House nie.

“Ons wil weer van hul fasiliteite gebruik maak in die toekoms en wil nie verhoudinge versuur nie,” het hy gesê.

V Na bladsy 2.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.