Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Moordenaar’ vas

Die vermeende moordenaar van ’n 38-jarige vrou van Eersterivier is die afgelope naweek in die Noord-Kaap in hegtenis geneem.

Gail van As is die oggend van Maandag 10 Februarie verskeie kere geskiet in haar huis in Hakea Street, Somerset Heights in Kleinvlei.

Sy het die huis met haar kêrel en twee kinders gedeel, wat tydens die voorval in die skool was. Toe haar kêrel net ná 10:00 by die huis kom, het hy die skokkende ontdekking gemaak.

Kapt. Florina Muller, polisiewoordvoerder, sê twee Ugandese burgers, wat by Van As geloseer het, was ná die moord skoonveld.

“Die polisie het onverpoos na die verdagtes gesoek en die een is die afgelope naweek in die Noord-Kaap in hegtenis geneem. Dit was ’n grusame moord op ’n jong ma en ons hoop die verdagtes word gou gevonnis,” sê Muller.

Volgens haar gaan die polisie nie in hierdie stadium meer inligting bekend maak nie, aangesien die ondersoek in ’n sensitiewe stadium is.

Sy wou ook nie bevestig of die foto wat op sosiale media rondgestuur is, wel dié van die vermeende moordenaar is nie.

Verlede week is ’n foto van die verdagte op Facebook gesirkuleer en is dit meer as 800 keer gesien. Dit het glo daartoe bygedra dat die verdagte aangekeer is.

Familie en vriende van Van As het op Facebook hul skok oor die moord uitgespreek. Iemand wat sê hy is Van As se neef skryf: “Niggie Gail, jy is wreed van ons weggeneem. Mag God met jou seuns wees wat agtergebly het. Ek is nie seker hoeveel ek nog kan vat nie. Rus sag met die engele.”

Van die ander mense wat op Facebook kommentaar gelewer het, het haar goeie deugde besing en haar heengaan betreur.

TygerBurger het ’n familielid om kommentaar genader, maar hy het benadruk dat hulle in hierdie stadium alle versoeke om onderhoude van die hand wys.

Die verdagte het Maandag in die hof verskyn, maar het nog nie gepleit nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.