Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Motoriste gewaarsku

Mense is bewus van die gevare wat in die bosse langs die Ou Faure-pad in Eersterivier skuil, maar steeds hou hulle daar stil.

Verskeie misdade, waaronder moord, verkragtings en kapings het al oor die jare daar plaasgevind.

Prostitusie vind ook oop en bloot langs die pad plaas. Die afgelope naweek het die Kleinvlei-polisie ’n padversperring daar gehou om mense bewus te maak van die gevare daarvan om daar stil te hou.

Kapt. Florina Muller, polisiewoordvoerder, sê al hul waarskuwings val op dowe ore. “In die meeste gevalle word mense gekaap omdat hulle in die donker daar stilhou. Diegene wat deur misdaad geraak word, kom lê nie altyd klagtes nie, omdat hulle skaam is oor wat hulle daar gaan doen het. Ouens stop vir prostitute en word dan aangeval. Hierdie slagoffers is soms gesiene mense en is bang hul goed kom op die lappe,” sê Muller.

Volgens Muller gooi misdadigers ook motors met klippe.

“Wanneer die eienaar van die motor stilhou, bespring die aanvaller hom. Ek wil ’n beroep doen op motoriste om die pad te vermy, maar indien hulle dit nie kan vermy nie, moet hulle nooit stilhou nie. As jy voel iets word teen jou motor gegooi, ry eers aan tot jy veilig is,” sê Muller.

Jerome Fitz, raadslid vir die gebied waardeur die Ou Faure-pad loop, sê armoede dwing mense om hul liggame te verkoop.

“Langs die pad is ma’s en hul dogters. Dit is mense wat nie meer weet watter kant toe nie. Ek wil inwoners van die omliggende plekke versoek om nie van die dienste gebruik te maak nie. Deur daar te gaan, skep jy ’n mark vir misdadigers, want hulle teiken die mense wat die prostitute besoek,” sê Fitz.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.