Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Musikante haal spogkompetisie

Twee jong musikante van Brackenfell is onder net 52 deelnemers landwyd wat gekies is om vanjaar aan die gesogte Hubert van der Spuy Nasionale Musiekkompetisie te gaan deelneem.

Corban Beukes (13) op viool en Karli Kennard (14) op klavier is tans besig met finale voorbereidings vir dié kompetisie wat al talle musikante op die weg na bekroonde loopbane geplaas het.

Oudisies is aanlyn ontvang en die kompetisie gaan tussen 19 en 23 September voort by die Hugo Lambrechts-sentrum in Parow.

Dit sal ook lewendig aanlyn aangebied word.

Vir sy viooloudisie het Corban “La Folia” van Corelli ingestuur.

“Ek hou van al die emosie en variasie van die stuk en “Mazurka”, wat ’n dans is. As ek die voorreg het om na die eindronde deur te dring, sal ek weer ‘La Folia’ wil speel omdat ek die stuk so geniet,” sê Corban, wat nou al elf jaar viool speel.

“Dis vir my ’n baie groot voorreg; ek geniet my instrument en om my emosies in die musiek weer te gee is vervullend.

“Weens Covid het ek baie aanlyn lesse gehad. Ek en my musiekjuffrou het hard gewerk en ons het hoë musikale berge geklim.

“Dit was harde werk, maar baie lekker. Ek sien uit daarna om al die harde werk in my musiek weer te gee sodat mense dit saam met my kan geniet,” sê hy.

Vir haar klavieroudisie het Karli twee kontrasterende werke ingestuur – een uit die Baroktydperk, ’n vinnige deel uit ’n Suite deur G.F. Händel en “Le petit ane blanc” (The little white donkey) deur Jacques Ibert.

Vir die eindrondes het sy stukke uit verskillende stylperiodes van die komponiste Händel, Chopin en Ibert gespeel.

“Dit is die eerste groot musiekkompetisie waarvoor ek ingeskryf het, dus voel ek baie geëerd. Ek is opgewonde en ’n bietjie senuweeagtig, maar ek gaan my hart uitspeel en my juffrou en ouers trots maak,” sê sy.

Die kompetisie word aangebied deur die Tygerbergtak van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Musiekonderwysers, geïnspireer deur die vereniging se Hubert van der Spuy.

Hilda Boonzaaier, voorsitter van die Tygerbergtak van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Musiekonderwysers sien daarna uit om die deelnemers in die Kaap te verwelkom.

“Dit is vir ons so ’n heerlike vooruitsig om die 32ste Hubert van der Spuy-kompetisie aan te kondig. Nadat ons verlede jaar die kompetisie moes kanselleer, moes ons vanjaar ook ekstra beplan om alles Covid-vriendelik te kan doen.

“Aanvanklik het ons beplan om die kompetisie virtueel aan te pak, maar het toe besef dat niks so goed soos ’n ‘lewendige’ kompetisie sal wees nie,” sê sy.

Die Covid-19-vriendelike oudisies is baie goed ontvang en die beoordelaarspaneel was baie beïndruk en tevrede met die standaard van almal se spel.

“Dit is duidelik dat al die deelnemers verlede jaar hul tyd goed gebruik het om te oefen en hul spel te verbeter. Ons moes egter vanjaar selfs meer as ander jare die getalle beperk en daarom is ons jammer dat alle aansoekers nie toegelaat kon word nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.