Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Naby was so bitter ver van veilig wees

Sy naam was Naby.

Sy pa is Frans en as hy die naam uitspreek klink dit soos “baby.”

“My Naby has died,” sê hy amper uitdrukkingloos. Aanvanklik leun ek oor, nie seker of hy oor ’n baba praat of oor sy 5-jarige seun nie. Maar dan pluk hy sy foon uit, wys ’n foto van ’n glimlaggende jong man. Grappig met ’n sonbril op.

Naby.

Vir ’n kort tydperk in sy kort lewe – of eerder sy dood – het Naby hoofopskrifte gehaal. Die woonstel waarin hy en ses ander gewoon het, het oombliklik in ’n vlammehel verander. ’n Vrou het by die venster uitgespring.

Selfoonvideo’s op sosiale media wys hoe kitskameramanne met selfone in die hand nader staan. Hulle neem, neem, neem en niemand help nie.

“Boy, 8, dies in fire,” skree opskrifte. Soos soveel keer tevore is nie eens sy ouderdom reg nie.

Die brand was helder oordag, in ’n taamlik bekende gebied.

Dit was byna regoor Bellville se stadskouburg.

In my relatiewe kort loopbaan as joernalis het ek al taamlik baie brande gesien.

Ek ken die roetreuk, die oneindige swart verbrande besittings.

By die woonstel is daar iets ongewoon. ’n A4-plakkaat staan by die ingang opgeplak.

“Ons het regtig hulp nodig. Help ons asb.,” staan daar by ’n prentjie van Naby.

As joernaliste word ons geleer om nie te na aan ’n storie te kom nie. Daar is net te veel dood, moord en aakligheid.

Maar iets aan die plakkaat ruk my. Hoe desperaat moet jy nie wees om ’n noodkreetplakkaat te maak en op te sit waar jou seun doodgebrand het nie?

Naby se ouers bly tydelik in ’n woonstel by mense wat hulle al jare lank ken. Uit die dae voordat hulle uit die Kongo gevlug het op soek na ’n beter lewe.

Met my besoek lê Naby se ma op ’n matras, sy kan skaars opkyk. Die donker hond van depressie hang swaar oor alles in die woonstel.

Hy en sy vrou was juis daardie noodlottige oggend op soek na werk, vertel Naby se pa. Die mense met wie hulle die huis gedeel het, het op daardie oomblik na Naby omgesien.

Hulle het huis toe gejaag toe bure bel en vertel van die brand. Hier moes hulle hoor Naby is dood.

Sy pa is steeds uitdrukkingloos. Dit is asof hy die storie al te veel vertel het. Te veel gevoel het.

Hy vertel hoe Naby gehou het van strokiesprente. Sy vrou mompel iets vir hom van die matras af. “And his toys,” sê hy.

En iets binne my breek. Ek dink aan my eie kleuter en haar speelgoed. Voor ek kan keer, begin my stem wankel en my oë traan. Ek kyk vinnig weg, maar hulle het dit gesien. Die zombie-damwal in die vertrek breek. Almal begin huil.

“Jésus,” prewel die ma herhaaldelik en praat in Frans. Dit klink of sy bid.

Die pa hou sy kop vas asof hy wens hy kon die nagmerrie wegwens.

“We have lost everything,” sê hy.

Later, by my kantoor, wat skaars 3 km van die plek af is, dink ek weer aan Naby. Ek verkies om hom te onthou met die Afrikaanse uitspraak. Naby.

Want dit is wat hy was – nie net in afstand nie, maar in soveel ander opsigte. Hy was so naby aan nog ’n baba wees, sy ouers se drome vir Suid-Afrika was naby, hy was so naby aan genoeg kos in sy maag hê en veilig wees in sy huis.

Naby, maar tog so bitter ver. – Nielen de Klerk

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.