Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Nuwe verkeersligte lol

Inwoners van Joostenbergvlakte is keelvol vir die verkeersopeenhoping by die Joostenbergvlakte-afrit weens die tydsberekening van die nuut-geïnstalleerde verkeersligte wat nie reg werk nie.

“Die opeenhoping bring mee dat verkeer tot op die N1-snelweg staan, wat uiters gevaarlik is vir motoriste wat oor die treinbrug ry en skielik staan daar voertuie op die N1. Soms staan daar sowat 10 swaar voertuie in ’n ry wat wag om regs te draai via die N1-brug na Kraaifontein se nywerheidsgebeid. Motoriste onderweg na Kraaifontein raak ongeduldig en maak hul eie baan, net om by die verkeerslig regs voor aankomende verkeer in te druk,” sê Karin van Zyl, voorsitter van die Joostenbergvlakte-gemeenskapsforum.

Verskeie ongelukke het reeds plaasgevind wat veroorsaak dat verkeer tot ’n algehele stilstand kom en veroorsaak dat die ry voertuie op die N1 nog langer raak.

“Inwoners van Joostenbergvlakte het al gevra of iemand eers met sy lewe moet boet voordat die owerhede ’n oplossing vir die probleem gaan kry. Van die Kraaifontein-motoriste draai ook links in Joostenbergvlakte in, net om ’n onwettige u-draai oor soliede wit strepe te maak om oor die brug na Kraaifontein te ry,” sê Van Zyl..

Verskeie ongelukke het ook reeds as gevolg van onwettige u-draaie plaasgevind.

“Selfs ekstra swaar voertuie (trokke met drie aste) maak u-draaie en die gevolg is dat hulle nie hul draai kry nie en dan in die watersloot vasval. Dit beteken dat Lucullus-straat dan vir etlike ure gesluit moet word en ekstra-swaar insleepvoertuie moet kom help om die oortreder by te staan,” sê sy.

Volgens Van Zyl is Lucullus-straat ook die inwoners se hoof-ontsnappingsroete in tye van nood.

“Uit frustrasie het inwoners begin om op die linkerskouer van Lucullus-straat met hul voertuie en kameras te staan en sodoende die u-draai-oortreders vas te vat. Die meeste oortreders dink dit is ’n grap en ander raak woedend.

“Een oortreder wat ’n onwettig u-draai gemaak het, is deur ’n werknemer van ’n sekerheidsmaatskappy gehelp nadat hy in die sloot beland het. Die tou waarmee hul die motor wou uittrek, het losgeskiet en sy onderbeen só erg beskadig, dat hy twee maande by die huis moes bly,” sê Van Zyl.

In ander voorvalle waar inwoners deur motoriste geviktimiseer is, het een voertuig op een van die inwoners wat wou verhoed dat u-draaie gemaak word, afgepyl en teen haar bene tot stilstand gekom. ’n Ander inwoner is by die verkeerslig toegesnou.

“Dit help nie om die inbelnommer by die verkeerslig te skakel nie, want die verkeerslig werk net vir ’n paar minute korrek, en verval daarna weer in sy ou roetine.

“Van die voertuie wat u-draaie maak, is veral korporatiewe voertuie (bakkies), tuindienste wat tuinafval wergy na die stortingsterrein, taxi’s, vragmotors van ’n bekende vervoerbesigheid langs die N1, asook wetstoepassing- en polisievoertuie.

“Die Joostenbergvlakte-gemeenskapsforum het al verskeie versoeke tot die verkeersdepartement gerig om die probleem op te los en Ruan Beneke (raadslid) werk ook nou saam met ons om die probleem op te los,” sê Van Zyl.

Volgens haar is die u-draaiers nie net ’n gevaar vir hulself nie, maar ook vir ander motoriste, fietsryers en voetgangers wat die pad gebruik. Die u-draaiers is ook ’n groot frustrasie en gevaar vir klante van Cape Garden Centre en Atlantic Pebbles.

“Volgens Beneke is ’n inspeksie reeds gereël en ons as die uitvoerende bestuur van die Joostenbergvlakte-gemeenskapsforum doen ’n beroep op alle motoriste wat bogenoemde roetes gebruik, om versigtig te wees en die padverkeerswet te gehoorsaam. Ons moet respek hê vir medegebruikers en ook die inwoners van Joostenbergvlakte.”

Van Zyl het ook genoem dat die eerste e-pos aan Beneke op 22 Junie 2017 gerig is en hy het dit aangestuur na die verskillende departemente in die Stad Kaapstad om die probleem te help oplos.

Die grootste probleem tóé was die voertuie wat regs draai by die verkeerslig na die Kraaifontein-nywerheidsgebied in Maroelaweg. Dié roete word gebruik deur swaarvoertuie wat na die nywerheidsgebied ry en verkeer word ook opgedam. Dis ook dieselfde tyd dat die ‘bykomende baan’ geskep is, wat ook regs draai in ’n enkellaan.

“Ons is ook bekommerd oor die voetgangers en fietsryers van Fisantekraal, Wallacedene en Bloekombos wat die pad gebruik. Ons het gereeld vir Beneke op hoogte gehou met video’s en hy het ’n vergadering met al die rolspelers gereël.

“Die uitvoerende bestuur het voorstelle wat ons by die vergadering aan al die rolspelers wil voorlê. Van die voorstelle word reeds baie doeltreffend op ander gebiede gebruik en dit is vir ons belangrik dat die onwettige u-draaiery gestop moet word. Die inwoners van Joostenbergvlakte is absoluut uniek en wonderlik en ons is dankbaar dat hulle geen moeite ontsien het om te kom help, wanneer dinge bietjie moeilik gegaan het nie.”

Richard Coleman, woordvoerder van die Stad Kaapstadse verkeersdienste, het by navraag gesê dat ’n u-draai slegs by drie geleenthede in ’n tweerigting-straat gedoen kan word.

“Dit moet vir die motoris veilig wees om dit te doen, vir vragmotorbestuurders moet die pad wyd genoeg wees om te draai en as daar geen padteken is wat u-draaie verbied nie, kan die u-draai gedoen word,” het hy gesê.

“Motoriste word nie toegelaat om ’n u-draai te doen waar daar ’n wit ‘geen verbysteek’-lyn of ’n dubbel ‘geen kruising’-lyn in die middel van die pad is nie. Dieselfde geld vir motoriste wat ’n u-draai teen ’n helling op of af maak nie. Die verkeerswet maak voorsiening vir ’n boete wat uitgereik kan word. As jy die u-draai-padteken verontagsaam, kan jy ’n boete van R1 000 betaal,” het Coleman gesê.

Die toepassing van die verkeerswet word op ’n gereelde grondslag by die afrit gedoen en altesame 140 boetes is vir verkeersoortredings uitgereik.

“Hierdie boetes sluit in moeë bestuurders, oorlaaide vragmotors, onpadwaardige voertuie en ander oortredings. Ons het al by verskeie geleenthede die afrit beman om verkeersvloei te reguleer en die afrit te beveilig, veral by die Joostenbergvlakte-kruising,” sê Coleman.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.