Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Onnie nou sakevrou

Suzie Mathys, ’n oudonderwyser, het op 55 jaar op vroeë pensioen gegaan, want sy wou nie in die onderwys doodgaan voor sy iets anders gedoen het nie.

Vandag bedryf dié voormalige naaldwerk-onderwyser, Suzie Mathys (68), saam met haar man en seun ’n koffiewinkel en gastehuis in Brantwood, wat onlangs op Booking.com ’n 2020 Traveller’s Review Award gekry het.

Suzie van Suzie’s Coffee Shop sê sy is net spyt sy het nie al vroeër in haar lewe besluit om dit wat sy nou só geniet, te doen nie.

Haar pa, ook ’n onderwyser, is oorlede in dieselfde jaar dat hy afgetree het. Met Suzie se aftrede by die Hoërskool Malibu het sy nog die onderwys geniet, maar sy was bang sy gaan op 60 sterf.

Sy het gaan leer vir onderwyser, want haar pa het geglo jy moet ’n gereelde inkomste hê. Sy sê haar man, Willy, is eintlik die een wat kanse waag.

“Ons het toe die plek (in Joubertstraat) gekoop. Dit was ’n crèche en ons het dit oorgekoop as onderneming – seker so 10 jaar gelede.”

Dit is nog as crèche bedryf, maar Suzie was nie self baie betrokke nie. “Ek het gevoel ek kan nie met klein kindertjies werk nie.”

Ná aftrede het sy besef die geld gaan tekort skiet want hulle seun moes nog studeer.

Sy het deeltydse poste geneem en vyf jaar by die Alta du Toit-skool afgelos.

Suzie se passie was nog altyd handwerk en dekor. Willy het voorgestel dat hulle liewer plek vir haar moet skep waar sy by die crèche kon wees. Sy moes kon toesig hou oor die onderwysers en kindertjies, maar sy wou sit in ’n kamer waar sy handwerk kon doen, “anders gaan ek mal raak met die klomp kindertjies om my”. 

Willy het gesê as sy “crafts” wil beoefen kan hulle mos koffie en koek ook doen. “Wat wie gaan maak?” wou Suzie weet, “want ek is ’n naaldwerkjuffrou – ek bak nie”. 

Die Mathyse het besluit hulle moet die gemeenskap betrek. Baie mense bak vir die kerk of ander geleenthede. Suzie sê hulle bak verskriklik goed, maar omdat hulle nie sakegerig is nie, was dit nie standhoudend nie.

“Ek het toe my skoonsussie gebruik. Dit werk toe –die mense begin kom en wil later brêkfis ook hê.” Toe skoonsus Wellington toe trek, sit Suzie weer met ’n probleem. 

“’n Mens leer deur al die goed.” Sy het besluit om van haar ou studentemaats wat huishoudkunde geloop het, te nader. 

“Toe sê ek, maar julle bôggers, julle is ook mos afgetree, julle kan mos nie sit en niks doen by die huis nie – julle bak my koek, julle het die agtergrond.” Een vrou het sjokoladekoek gebak en ’n ander die wortelkoek. Sy wou net daarop konsentreer omdat daar toe nog nie baie klante was nie.

Die volgende haakplek was met die crèche-kindertjies en die koffie-klante.

“Ek was bang vir die kinders se veiligheid en die klante wou rustig wees, dan kom klop en raas die kindertjies daar.” 

Die hoop dat die crèche-ouers die koffiewinkel sou ondersteun, het beskaam, want hulle was altoos haastig. 

So twee jaar gelede kom hul seun, William-John, met ’n plan. Hy sal help, maar op voorwaarde hulle maak die crèche toe en omskep dit in gaste-eenhede. 

“Dit was maar ’n storie, want mense speel op jou gevoel.” Die gastekamers en koffiewinkel saam werk goed, sê Suzie.

William-John – ‘‘die millenniër wat glo in no paper en sosiale media” – het al die bemarking begin doen. “Jy gaan op Facebook en adverteer.”

Suzie’s Coffee Shop was nou sigbaar. Die crèche se personeel is behou, maar moes heropgelei word. Sy het ’n sjef gekry om hulle te leer, en die oud-juffrou wys graag “maak só”. 

“Die universe help ’n mens ook op jou pad,” sê Suzie. ’n Paar Amerikaanse studente op ’n uitreikprogram het die personeellede kom leer om kelnerwerk te doen en als help inoefen. 

Om te sien hoe haar personeellede ontwikkel, is vir haar baie belangrik. “Dit was in die begin my hele idee – omdat ons nie grootgeraak het met restaurante nie.” 

Sy wou ’n ruimte skep waar ook mense van mindergegoede gebiede nie geïntimideer sou voel nie. “Hulle moet die spasie saam geniet – hoe dit voel om bedien te word.” Sy wou die pryse laag hou, maar het gou besef dit is nie so eenvoudig nie. 

“My dogter het gesê: “Mammie, daai mense sal nie eens die stuk koek wat jy vir R25 wil verkoop kan bekostig nie, want hulle koop net die nodigste.” 

Dit was vir Suzie ’n groeiproses, maar daar is baie mense wat kan help, sê sy. 

Sy is lid van ’n vroueorganisasie wat praatjies en werksessies reël oor onderwerpe soos geldsake. So kon sy die kopskuif maak. “Ek is nie meer ’n juffrou nie, ek’s nou ’n sakevrou. Ek staan hier as werkgewer.” 

Sy glo wel haar personeellede moet elke dag leer en soggens word eers vergadering gehou. Sy raak soms gefrustreerd omdat hulle nie vorder tot waar sy wil hê nie – “maar ek vertrou hulle. Hulle is eerlik en hulle steel nie my goed nie en dis vir my die belangrikste.” 

Dit is nie hoogs betaalde werk nie, maar ten minste verskaf hulle werk, sê Suzie. Sy wil vir die jonger generasie wys ‘‘hierdie onderneming kan werk in ons gemeenskappe. Ons hoef nie te wag vir die regering wat nou in elk geval ons land ...., of wag vir tenderpreneurs nie. Ons moet werk met wat ons het.”

Dit is hoekom hulle kan groei en ook danksy William-John se bemarking, sê sy.

Daar is nog baie om te doen en partykeer wonder Suzie wanneer gaan hulle dan nou geld maak. 

Maar sy sê die bevrediging van elke dag is net soveel meer.

“Ons ontmoet die wonderlikste mense en ons leer om minder judgemental te wees teenoor mekaar en mekaar se verskille. Ek self sukkel soms daarmee as Afrikaners boek en hulle kom hier en besef dis ’n ‘persoon van kleur’... maar dan op ou einde is dit sulke nice mense en ons connect met mekaar.”

Die koffiewinkel en die gastekamers getuig van Suzie se passie – die dekor is ’n eklektiese mengsel van oudhede, opgaargoed en interessanthede. Mense dra gereeld nog goed aan. “Ek moet net keer dat dit nie in ’n negosiewinkel ontaard nie,” skerts sy. 

Iemand het haar eendag gevra of mense nie aanstoot neem oor die straatbord waarop “Hendrik Verwoerd” staan nie. “Nee, ons moet juis die verlede onthou sodat ons nie dieselfde foute maak nie. Hendrik se kleinseun, Wilhelm, was al hier – ons kan openlik met mekaar praat oor ons pyn van die verlede en ons kan probeer verstaan.” 

’n Klant het vir Willy ’n “slegs blankes”-bordjie geskenk. Toe spot hulle maar met een van hul gereelde klante dat hulle die bordjie daar gaan hang waar hy altyd sit. 

“Vir my is dit groei, want ons kan nou al lag daaroor. As ons dink dat ons nie sekere plekke kon gaan nie omdat daar gestaan het ‘slegs blankes’ – sou mense dink hoekom wil julle die goeters hê wat julle so herinner, maar dis omdat mens nou al gegroei het. Moet dit nie ontken nie, dit was daar, maar ons beweeg aan.” 

Wat die laaste jare in die land gebeur het is wel vir haar hartseer omdat ‘‘ons so ’n verwagting gehad het van ons demokrasie”. 

Vir Suzie is dit belangrik dat mense nie moet sê “ons het nie”. Mense moet iets probeer doen met wat hulle het.”

Roosterkoek is die ‘‘signature’’ op Suzie’s se spyskaart en word by elke ontbyt ingesluit. 

Die klei-oond buite het Willy self gebou. Van die pragtige houttafels en die interessante wielvelling-kaggel is ook dié handvaardige man se werk. 

Suzie het verlede jaar ’n toekenning vir ‘‘Lewensbydrae tot die bevordering van entrepreneurskap’’ van die DAK Netwerk ontvang. 

Dié organisasie met dr. Danny Titus aan die stuur is genoem na die Khoisan-ikone Doman, Autshomao en Krotoa, en fokus daarop om ’n platform aan die breë Afrikaanssprekende gemeenskap te gee. 

Die koffiewinkel verg heelwat beplanning, maar die gastebedryf is vir Suzie die lekker deel. Die Mathyse het hul huis “anderkant die spoor” verkoop en by Suzie’s ’n plekkie ingerig “dat ons hier kan wees om die gaste te ontvang”. 

Die gaste hou van die huislikheid en hulle voel amper soos familie, sê Suzie. Dié dat hulle reeds twee jaar agtermekaar ’n punt van 9 uit 10, gegrond op die terugvoer van gaste, op Booking.com kon behaal.

Omdat Suzie’s nie in ‘‘’n main road of in ’n mall is nie, gaan mense nie sommer net hier inpop nie.” 

Daarom word geleenthede gereël. Vanjaar is begin met ’n Fokus 2020-ontbytwerksessie met Ingrid Jones, en op Saterdag 22 Februarie van 10:00 kom praat Johan Strauss oor “Cyber security”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.