Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
“Ons lewe in vrees”

Inwoners van Spes Bona-rylaan in Belvedere, Parow sê hulle is raadop met straatbewoners wat hul gebied teister en soms glo ook by hul eiendom inbreek.

Die probleem met die straatbewoners langs die N1-snelweg, waar hulle skuiling soek, kom al ’n geruime tyd aan, meen Kassie Steenkamp, wat al 26 jaar lank in Spes Bona-rylaan woon. Hy sê die doodloopstraat waar hy woon, is reg langs die geboue van PetroSA geleë. Die petroleumreus het egter ’n heining tussen sy eiendom en die N1-snelweg aangebring en dis glo daar waar nou al ’n ruk lank permanente strukture deur straatbewoners opgerig is.

Steenkamp sê ’n stegie tussen die huise en die snelweg word gereeld deur straatbewoners gebruik en dat veral dít probleme veroorsaak.

“Dit lyk my die doodloopstraat is ’n brandpunt vir misdaad. Alles gebeur hier.

“Hier is die afgelope 26 jaar al vyf motors in die straat gesteel,” het hy verlede week aan TygerBurger gesê.

Hy sê ’n bos wat reg onder die snelweg geleë is, word gebruik as tuiste en dis hier waar straatbewoners strukture aangebring het.

Steenkamp het ’n alarmstelsel, sowel as kringtelevisie, op sy perseel. Hy sê dikwels word duidelik gesien hoe van die straatbewoners snags verby sy huis loop – selfs ná 21:00 wanneer die nasionale aandklokreël in werking tree.

“Ek het al telkemale die Stad Kaapstad se wetstoepassers gekontak. Hulle gee ons verwysingsnommers en volg dit op met ’n SMS-boodskap.”

Steenkamp sê ná dit word egter geen ander terugvoering aan hulle verskaf nie.

“Ons het al self van hulle gevang waar hulle besig is om in te breek, maar daar kom niks van die sake nie.

“Wanneer ons hulle kontak, dan sê hulle die saak is afgehandel.

“As die polisie gekontak word, word daar gesê hulle het nie voertuie beskikbaar om uit te kom nie,” sê Steenkamp.

Hy sê die polisie ondersoek glo ook sake wat nog onopgelos is. Die kwessie is ook onder die plaaslike wyksraadslid se aandag gebring, sê Steenkamp.

’n Buurvrou van hom, wat anoniem wil bly, het gesê sy vrees vir haar, sowel as haar dogter se lewe.

Dié inwoner van meer as 30 jaar sê van die bosbewoners klim dikwels oor haar heining om toegang te kry tot haar perseel. Haar koperpype is glo in November deur van dié mense gesteel.

“Ons kan op die kringtelevisie sien hoe hulle oor die muur klouter.

“Ek het hulle gehoor en die ligte aangeskakel en op hulle geskreeu, waarna hulle weggehardloop het. Die pype is steeds nie herstel nie.”

Die water het die betrokke oggend deur haar motorhuis tot in die straat geloop.

“Al my krane is al mettertyd gesteel, en almal is vervang met plastiekkrane,” sê die inwoner.

Sy sê hulle leef in vrees. “Die ding ruk nou heeltemal handuit. Ek het gedink ek wil nooit weer in die tuin loop nie, want ek weet nie wanneer iemand my kan aanval nie. Weet jy hoe angswekkend voel dit?”

Die inwoner sê in die vakansietyd kon hulle ook nie wegkom nie, uit vrees dat misdadigers by hul huise gaan inbreek.

“Ek kontak gereeld die wetstoepassingsafdeling. Hulle gee ons ’n verwysingsnommer en bevestig dit deur ’n boodskap via SMS, maar wat nou? Wat gaan nou gebeur?

“Jy mag nie eie reg gebruik nie, maar wat gaan gebeur as ek op my eie erf aangerand word?

“Ek dink nie dis aanvaarbaar nie. Jou lewe voel bedreig,” sê die inwoner.

Leonore van der Walt, wyksraadslid, is genader om kommentaar.

“Wat die beweerde misdaad deur die straatmense betref: dit moet deur die polisie ondersoek word indien voldoende bewyse bestaan dat dit die mense is wat op die terrein tussen PetroSA en die N1 slaap,” het sy gesê.

Ten opsigte van straatbewoners het wetstoepassingsbeamptes nie arrestasiemagte nie, het Van der Walt gesê.

Steenkamp voeg by: “Dis nie net meer ’n kwessie van onwettige plakkers nie, maar eerder grondvergrype.”

TygerBurger wag nog op die kommentaar van die Stad Kaapstad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.