Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Oom Billy 100% agter die Bokke

Met die Wêreldbeker-rugby in Japan agter die rug, sit een ondersteuner steeds sy liefde en passie vir dié spel en die Springbokke voort.

Billy Augustyn van Esperancestraat in Parow-Oos is waarskynlik een van die nasionale span se grootste ondersteuners en dié senior burger se voorkamer, eetkamer en onthaalarea getuig hiervan.

Meer as 100 Springbok-pette en -hoede, sowel as Stormers- en WP-memorabilia, T-hemde, foto’s, vlae, serpe, glase en nog meer versier dié afgetrede onderwyser se huis – iets waaroor hy heeldag kan gesels.

Billy versamel al sedert sy tienerjare rugby-memorabilia.

“Ek het op 13 jaar ernstig begin belangstel in rugby nadat ons buurman vir my ’n rugbytrui gekoop het sodat ek aan rugby kon deelneem.

“My ouers kon nie een bekostig nie. Ek het toe op skool tot in matriek en daarna op onderwyskollege gespeel,” onthou hy.

Hy het as onderwyser gewerk en ook destyds by die Bellville-rugbyklub aangesluit, waar hy vir ongeveer 13 jaar gespeel het.

“Ek versamel dus al rugbygoed van ongeveer 14 jaar af.”

Sy versameling is duisende rande werd. “Ek het net nie ’n groot genoeg vertrek gehad om my memorabilia uit te stal nie. Ek het my voorgeneem dat ek weer eendag ’n plek sou hê waar ek alles kan uitstal. Toe ek in 1996 ’n pakket uit die onderwys neem, het ek by my huis laat aanbou om my droom waar te maak.”

Hy sê al sy rugbyversamelstukke is vir hom baie kosbaar.

“Veral my Springbok-, WP- en Stormers-aandenkings.”

Hy sê egter die plakkaat van die 1955-toets tussen die Bokke en die Britse Leeus op Nuweland is vir hom baie spesiaal.

“Dit is destyds deur Caltex uitgegee en ek het dit gekry toe my pa brandstof ingegooi het. Dit is dan ook my eerste versamelstuk.

“Nuweland lê my na aan die hart en ek het al baie toetse daar geniet.”

Die rugbyliefhebber sê ’n getekende A4-papier van die 1960-All Blackspan is ook vir hom spesiaal.

“My duurste versamelstuk? Dis moeilik om te sê, want hoe bepaal jy die prys van iets wat so baie geskiedenis en emosie dra?

“Heel moontlik die geraamde oorspronklike Wallaby-trui van 1992, wat deur die hele span en afrigters geteken is. Daardie span was die wêreldkampioene van 1991 en het teen die Bokke op Nuweland gespeel nadat Suid-Afrika in 1992 weer in dié internasionale rugby-familie toegelaat is,” onthou Billy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.