Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ouers vies oor busse nie ry nie
(Pixabay)

Talle omgekrapte ouers het verlede Dinsdagoggend in Fisantekraal betoog omdat hul kinders nie kan eksamen skryf nie weens ’n gebrek aan busdienste.

Busdienste met ’n kontrak met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het voorverlede Vrydag 2 Oktober begin staak.

Dit is eers teen verlede Donderdag hervat, buiten in die Kaapse Wynlanddistrik, soos in die Paarl en Stellenbosch, waar die staking glo voortduur.

Volgens Elizabeth Maans, ’n ouer van Greenville in Fisantekraal, was haar kind een van talle wat nie kon gaan eksamen skryf by die Primêre Skool Blue Mountains nie, ’n plaasskool buite Durbanville, omdat daar nie vervoer skool toe was nie.

Volgens Albert Baatjies, hoof van die Primêre Skool Blue Mountains, moes hulle die eksamenrooster aanpas om dié leerders tegemoet te kom.

Ook die leerders van die primêre skole Attie van Wyk en Klipheuwel is hierdeur geraak, het Maans aan TygerBurger gesê.

TygerBurger kon nie antwoord kry by hierdie skole om dit te bevestig nie.

Ander plaasskole soos die primêre skole Vissershok en The Valley is nie hierdeur geraak nie, omdat hul leerders van die private busdiens van die Primêre Skool Alpha in Morningstar gebruik maak.

Volgens Priscilla August, skoolhoof van The Valley, ry leerders van Greenville en Fisantekraal op hul ouers se eie onkoste met private vervoer. Die skole maak van die Primêre Skool Alpha se private busdiens gebruik om leerders van Du Noon aan te ry, het sy gesê.

Millicent Merton, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), het aan TygerBurger bevestig ’n groot aantal van die vervoerkontrakteurs wat leerders vervoer en lid is van die South African National Small Bus Operators Council (Sansboc) se Wes-Kaaptak, het hul vervoerdienste weerhou.

Hierdie busdienste het kontrakte met die WKOD, het sy gesê.

“Verskeie skole waar leerders deur hierdie kontrakteurs vervoer moet word, word deur die weerhouding van die dienste geraak,” het sy gesê.

Volgens Merton is die kontrakteurs in die Kaapse Wynlanddistrik ontevrede oor die noodverkrygingsproses wat gebruik moes word om interimkontrakte so vinnig as moontlik in daardie distrik toe te ken.

“Kontrakteurs in die ander distrikte, soos in Durbanville, neem deel aan die weerhouding van dienste in simpatie met kontrakteurs in die Kaapse Wynlanddistrik.

“Baie min kontrakteurs in die Eden- en Sentraal-Karoo-distrik neem deel aan hierdie weerhouding van dienste,” het sy gesê.

Sy het gesê daar is slegs die nodige reëlings getref om matrikulante na eksamenlokale te vervoer.

Bronagh Hammond, direkteur: kommunikasie van die WKOD, het in ’n mediaverklaring gesê die buskontrakteurs het op 30 September besluit om busdienste vanaf 1 Oktober te staak.

Volgens haar het hulle tot die stap oorgegaan omdat “die voorsiening van leerdervervoer op die huidige terme en voorwaardes nie finansieel volhoubaar is nie”.

“Sansboc (Wes-Kaap) het op 2 Oktober ’n aansoek by die hooggeregshof ingedien om ’n interdik teen die WKOD te bekom om die WKOD te keer om nuwe interimkontrakte vir leerdervervoer in die Kaapse Wynlanddistrik toe te ken terwyl langtermyn tenders, soos geadverteer in Maart vanjaar, nog gefinaliseer word. Die WKOD het egter binne sy statutêre regte opgetree,” het sy gesê.

Hammond het gesê die bewering is onakkuraat dat die busdienste gestaak is weens die nie-betaling van die dienste.

“Die veiligheid van ons leerders, wat reeds ’n groot deel van hul skooljaar misgeloop het, en die verdere impak wat die opskorting van busdienste het, is ’n bron van kommer. Dit (die staking) kon nie op ’n slegter tyd gekom het nie, gegewe die tyd van die jaar en terwyl skole, ouers en gemeenskappe bo verskeie krisisse van die pandemie probeer herrys,” het sy gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.