Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Oupas ry fiets vir Choc

Die mediese uitgawes wat gesinne het wanneer ’n familielid met kanker gediagnoseer word, is die rede waarom twee pensioenarisse vanjaar met ’n fietstoer genaamd “Kuspatrollie 2” geld vir die Kinder-kankerstigting (Choc) by die Tygerberg-hospitaal gaan insamel.

Pieter Oberholzer (62) van Stellenberg en George Hamilton (62) van Doordekraal ry vanaf George, waar verlede jaar se toer geëindig het, tot by Beghamond, oos van Port Alfred.

Hulle het Saterdag 7 September uit George vertrek en hoop om Saterdag 15 September die afstand te voltooi.

Verlede jaar het hulle ook op 7 September ’n soortgelyke projek, “Kuspatrollie vir Elleny”, aangepak en van Kaappunt tot by George gery. Die geld wat met die fietstoer ingesamel is, is gebruik om die mediese onkostes van Elleny Engelbrecht van Durbanville te help dek.

“Choc is ’n organisasie wat hom beywer vir die ondersteuning van kinders met kanker, asook hul families.

“In Augustus verlede jaar, pas na haar sesde verjaardag, is Elleny met B-sel akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer. Dié diagnose het ’n geweldige emosionele en geldelike impak op die familie gehad,” het Oberholzer gesê. Daar is dadelik met haar chemo- en ander behandelings begin en volgens Oberholzer het die mediese rekeninge ingestroom.

“Pieter en ek is albei oupas en het die Saterdag met bergfietse vanaf Kaappunt tot by George gery en al die agterpaaie so na as moontlik aan die kus, gevolg. Na nege dae, 662 km en 5 458m se vertikale klim, het die toer by die George-lughawe geëindig,” het Oberholzer gesê.

Elleny se behandeling was sedert verlede jaar só suksesvol dat sy in die tweede kwartaal vanjaar vir die eerste keer weer kon skool toe gaan. Sy drink steeds pille, maar dit gaan baie beter.

Daar is baie ander gesinne met dieselfde behoeftes en daarom het die twee oupas besluit om vanjaar ’n soortgelyke projek ten bate van Choc aan te pak.

Choc het ’n lang en roemryke geskiedenis van hulp en ondersteuning aan families wat deur kanker getref is. Hul webblad sê tereg hulle ondersteun kinders, ouers, families en gemeenskappe om meer as net hoop lewend te hou. “Daarom kies ons ook nie die maklike roete nie. Ons probeer so ver moontlik op agterpaaie ry. Dit neem ons deur wonderlike natuurskoon, maar ook op verskeie uitdagende bergpasse.

“Die roete sluit die Sewe Passe tussen George en Knysna in, asook die Grootrivierpas, die oorspronklike Boesmansrivierpas en vele ander,” het Oberholzer gesê. Die ryers se vordering kan op Oberholzer se Facebook-blad gevolg word.

  • Lees meer oor Choc en die werk wat hulle doen by www.choc.org.za Daar is ook ’n skakel vir enigeen wat graag ’n donasie ten bate van die projek wil maak.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.