Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Petisie na inbraak by sentrum

Meeste winkeleienaars by The Village Square-winkelsentrum in Durbanville het verlede week ’n petisie vir verskerpte sekerheid geteken na nóg ’n voorval van misdaad die afgelope maande.

Ses diewe het Dinsdag 30 Julie omstreeks 03:00 toegeslaan by Dolce Bella Boutique en binne twee en half minute bykans ’n halfmiljoen rand se goed gesteel.

Dit is na verneem word die vierde misdaadvoorval by dié spogwinkelsentrum in Oxfordstraat, Durbanville, wat einde November verlede jaar geopen is.

Rowers het in Maart vanjaar helder oordag by Computer Mania toegeslaan terwyl daar klante in die winkel was, onder meer ’n 13-jarige seun.

Een van die rowers het buite in ’n wit VW Polo gesit en wag, terwyl die ander drie die winkel in is. Hulle het 15 skootrekenaars uit die stoorkamer geroof. Die waarde van die verlore items is op R100 000 geskat. Inbrake is ook by ander winkels aangemeld.

In die jongste voorval kan daar op sekerheidskameras gesien word hoe die diewe in ’n blou VW Polo reg voor die boetiek stilgehou het en die ses rampokkers die voordeur oopforseer het.

Hulle is op sekerheidskameras vasgevang waar hul met pikstele drie glaskaste stukkend geslaan het.

Al die juweliersware, horlosies en sonbrille in die glaskaste is gesteel. Ook die winkelrakke is gestroop van handsakke, skoene, duur parfuum en ander items.

Die waarde van slegs die gesteelde items beloop sowat R500 000, terwyl duisende rande se skade aan die winkel aangerig is.

Volgens die eienaar, Albert Jansen van Rosendaal, was die diewe hoogs professioneel en het hulle presies geweet hoe lank dit die sekerheidsmaatskappy gaan neem om op te daag.

Die alarm van die winkel was nie geaktiveer nie, omdat hulle besig was om dit te verbeter, maar die deuralarm het wel loeiend afgegaan.

Volgens hom was daar vier sekerheidswagte aan diens – twee van The Village Square en twee van die gebou waarin sy winkel geleë is. “Nie een van hulle was in die omgewing toe die inbraak plaasgevind het nie. Hulle was glo in die kelderverdieping,” het hy gesê.

Van Rosendaal het by navraag aan TygerBurger bevestig hy ’n petisie begin het sodat die sekerheid by die winkelsentrum verbeter kan word. Hy het dit verlede Vrydag aan die sentrumbestuur oorhandig, het hy gesê.

“Ons wil hê dat glashouers by die in- en uitgange opgerig word, waarin wagte voltyds aan diens is,” het hy gesê.

TygerBurger het ’n afskrif van die petisie in die hande gekry.

Daarin word versoek dat die sekerheid verbeter word, omdat “die winkeleienaars en klante nie veilig voel nie”.

Hulle versoek onder meer dat die sekerheidwagte die in- en uitgange beman en toegang beheer, en ook van ’n paniekknoppie voorsien word wat met die Durbanville-polisiekantoor verbind is.

By MacFix, ook in die sentrum, is daar op 4 Januarie omstreeks 02:00 ingebreek en het die diewe ook reg voor die winkel parkeer.

Volgens ’n woordvoerder van dié winkel het hulle by die winkel ingebreek en alle Apple-toebehore gesteel. Hoewel ’n sekerheidswag hulle gesien het, het hy nie opgetree nie, omdat hulle glo gewapen was. “’n Mens kon egter op die videomateriaal geen vuurwapens sien nie,” het hy gesê.

Winkeldiefstal vind glo ook op gereelde basis op ’n georganiseerde wyse plaas. Die aandag van die wagte word glo afgetrek terwyl ’n groep winkels besteel.

Bianca Pretorius, sentrumbestuurder, het gesê Dolce Bella Boutique is nie in hul sentrum geleë nie, maar in ’n aangrensende gebou. Computer Mania en MacFix is egter wel in die sentrum geleë.

“Ons is nie Dolce Bella Boutique se verhuurder nie en kan ons nie uitspreek oor die sekerheid van ’n aangrensende gebou nie.

“Maar ons neem sulke voorvalle ernstig op en het reeds aansienlike beleggings in sekerheid gemaak om pro-aktief teen misdaad te kan optree. Die sentrum word deur ’n baie goeie sekerheidskamerastelsel bedien met die sekerheidswagte wat voortdurend roteer word. Ons wil egter nie ons sekerheidsplanne bekend maak en ‘adverteer’ nie, omdat kennis daaroor ook die misdadigers bemagtig. Dis iets wat ons agter die skerms doen,” het sy gesê.

“Misdadigers raak al hoe meer vernuftig en ons gaan altyd uitdagings teen misdaad hê. Selfs met al ons sekerheid in plek, sal dit nooit 100% bestand wees teen misdaad nie,” het sy gesê. Volgens haar het nie al die winkeleienaars die petisie verwelkom nie, maar wou nie name verstrek nie.

Leendert Hols, eienaar van die gebou waarin Dolce Bella Boutique geleë is, het gesê misdaad raak al hoe erger in die sakekern, nie net by die sentrum nie. “Sakelui moet saamstaan om dit hok te slaan. Dis jammer die stadsverbeteringsdistrik het nie gerealiseer nie,” het hy gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.