SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Nuus
Raadslid bewus van onwettige rommel

Rommel wat glo voortdurend onwettig in ’n stegie in Klipkop, Parow gestort word en inwoners daar hoofbrekens gee, is iets waarvan die plaaslike wyksraadslid wel kennis dra.

TygerBurger het verlede week berig oor die stegie geleë op die hoek van Clarendon- en Rileystraat waar rommel gereeld gestrooi word ten spyte van ’n waarskuwingsteken dat dit verbode is (“Dangers in alley”, 20/11). Die stegie verbind Clarendonstraat met Duikerstraat.

Met ’n onlangse besoek aan die gebied het Raymond Hendricks gesê lede van sy kerk, die Katolieke kerk Marter Dei Rooms, loop Sondagoggende deur die stegie om by die kerk uit te kom. Hy sê egter hy vrees vir hul veiligheid. Volgens hom is die stegie onveilig.

“Ek deel die inwoners se frustrasie,” het Jackie Visser, wyksraadslid, verlede week gesê.

Sy voeg by: “Ek is ten volle bewus van die onwettige rommelstorting in Duikerstraat. Dit is een van die brandpunte in die wyk.

“Die rommel lê nie weke lank daar nie; dit word so gereeld as moontlik skoongemaak.

“Ek was ’n paar weke gelede teenwoordig en het gesien hoe die werkers bourommel en groot klippe per hand daar moet uitdra. Die gemeenskap van Ravensmead en Klipkop is verantwoordelik vir die probleem,” meen Visser.

Sy sê daar is ’n “geen rommelstorting”-teken opgerig, maar mense stort steeds hul vullis daar – reg onder dié teken.

“Die Stad spandeer jaarliks miljoene rande se belastinggeld om onwettige rommel te verwyder. Die gemeenskap kan soveel meer waarde vir hul geld ontvang as die Stad nie nog bykomende dienste moet bied om dit skoon te maak nie.”

Visser sê die enigste oplossing sal wees om die gangetjie toe te maak.

“Maar dan kry jy ook weer teenstand van diegene wat dit daagliks moet gebruik.”

Voetgangers stap daagliks deur die stegie om gouer by Parow se sakekern, die Tygerberg-treinstasie of in Ravensmead uit te kom.

Visser sê die gemeenskap kan ook ’n bydrae lewer deur nie hul rommel deur enige persoon te laat verwyder teen ’n skamele bedrag nie. Baiekeer is dit daardie rommel wat op onwettige plekke gegooi word, sê sy.

“Daar is geen goue middeweg nie. Ons gemeenskappe moet verantwoordelikheid en respek vir ons gebiede toon en oortreders aanmeld en self berispe, indien hulle dit sien gebeur,” sê sy. Die meeste rommel word laat saans óf baie vroeg soggens afgelaai.

Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, sê die Stad begroot jaarliks sowat R110 miljoen tot R120 miljoen om rommelstrooi-brandpunte op te ruim. Sy sê daar is omtrent 1 000 sulke brandpunte reg oor die skiereiland.

Onwettige rommelstrooiery kan aangemeld word by 0860 103 089.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.