Die Brackenfell-polisie ondersoek ’n saak van huisbraak ná ’n voorval Donderdagmiddag in Karmelstraat in Proteahoogte.
Die inwoners was nie tuis nie toe inbrekers omstreeks 13:05 die veiligheidsdeur en voordeur afgebreek het, sê kapt. Erica Crous, polisiewoordvoerder.
“Die huisalarm het kort daarna afgegaan en sekerheidsfirmas het vinnig gereageer en ook die polisie gekontak.
“’n Buurman het ’n silwer Renault voor die huis gewaar en ook ’n vreemde man sien uithardloop met ’n televisiestel. Hy het toe in die kar gespring en weggejaag,” sê Crous.
Dis onduidelik hoeveel mans in die voertuig was.
Die ondersoek duur voort.