Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sakkie skakel chemo se newe-effekte uit

Die verlies van vier familielede aan kanker die afgelope drie jaar, was die rede vir Crystal August van Parowvallei se Chemo Care Bags-projek. Sy hoop om voor 23 Junie genoeg omgeesakkies met die nodige vol te maak om aan die kankerpasiënte by die Tygerberg-hospitaal te oorhandig.

“Ek het gesien hoe sukkel my familielede tydens chemoterapie en het die pad met hulle gestap. Ek kan nie eers probeer om namens die miljoene ander te praat wat ook dieselfde kankerpad met ’n geliefde gestap het nie. Op my beskeie manier wil ek probeer om ’n verskil te maak, al is dit net met die omgeesakkie,” het sy gesê.

Die chemo-omgeesakkies wil sy vul met warm sokkies, ’n kombers, hande- en lyfroom, lekkers, lipsalf, handreinigers, ongeparfumeerde afveelappies, maizena of babapoeier. “Die rede vir die spesifieke items vir die omgeesakkie is om die newe-effekte van chemoterapie of bestraling by pasiënte te help verlig. Chemo droog jou vel uit en lyfroom kan dit weer bevogtig, die lekkers is om die metaalsmaak in jou mond uit te wis en die kombers en sokkies om jou voete en lyf warm te hou, veral in die winter. Onkoloë vra ook dat jy nie water moet gebruik op die behandelde area waar bestraling toegedien is nie en dis hoekom maizena of babapoeier daaroor gestrooi word,” vertel August.

“Gedurende chemo-behandeling is die pasiënt se immuunstelsel baie laag en hulle is vatbaar vir enige infeksie.

“Die ongeparfumeerde afveelappies en handreinigers help om kieme weg te hou, veral as die kankerlyers gereeld in en uit die hospitaal beweeg vir behandeling.”

Sy het op Vrydag 5 Mei met haar insameling van die items by familie en vriende begin en hoop dat ander ook sal help om die omgeesakkies te vul. As sy dit op haar eie moes doen, sal sy sowat R8 000 uit haar sak moes opdok.

“Ek het vyf jaar gelede my eerste projek, Birthday of Hope, van stapel gestuur waar ek vyf ure van my tyd aan liefdadigheid skenk.

“Die vyf ure is hoe lank my moeder in kraam was voordat ek gebore is en dis my dankie vir die geskenk van lewe. Die omgeesakkie vir die kankerpasiënte in die Tygerberg-hospitaal is my dankie vir die goeie versorging wat my tante by die Tygerberg-sorgsentrum tydens haar chemoterapie ontvang het,” vertel sy. Volgens haar laat die pasiënte hul gesinne by hul huise agter wanneer hulle kankerbehandeling ontvang – soms vir ses weke. Daar is ’n wanpersepsie dat net die kankerlyer die stryd alleen stry, maar familielede word ook geraak deur die familielid wat met kanker gediagnoseer is.

“Ek glo dat klein dingetjies wat jy vir die kankerlyers doen, hulle dag kan verbeter, en hulle aandag van die siekte aflei,” sê August.

Mense wat items wil skenk, kan haar kontak by 072 135 0274 of augusc09@gmail.com.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.