Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Seun sterf in skietery

Die seun (12) van Uitsig wat verlede Vrydagaand doodgeskiet is, gaan op die dag wat hy sy dertiende verjaarsdag sou vier, begrawe word.

Aswhin Jonas is luidens ’n polisieverslag omstreeks 21:25 op die hoek van Arnold-en Connaught-straat geskiet.

“Die seun is verskeie kere geskiet en het aan sy wonde beswyk. Die omstandighede van die moord word nog ondersoek en die polisie volg leidrade op om die moordenaars aan die pen te laat ry,” lui die verklaring.

Meer as 20 skote is glo op Jonas en van sy maats geskiet terwyl hulle besig was om motors buite ’n moskee op te pas.

Die moord op Jonas volg op die moord verlede Woensdag op die 41-jarige Ferdie Pipers in Connaught Estate. Pipers, ’n taxi-bestuurder, is in die kop geskiet en het aan sy wonde beswyk.

Peter Steenkamp, waarnemende skoolhoof by die Laerskool Tygersig in Uitsig, waar Jonas ’n graad 5-leerder was, sê hulle is hartseer en geskok oor die ontydige heengaan van Jonas.

“Ek persoonlik was baie lief vir hom en het elke oggend met hom gepraat. Hy was ’n tipiese seun wat ook soms kattekwaad aangevang het, maar ons het potensiaal in hom gesien,” sê Steenkamp.

Volgens Steenkamp het die skool al baie leerders begrawe. “Die sekretaresse herinner my daaraan dat ons byna elke Junie ’n leerder moet begrawe en dit is nie iets waaraan ’n mens gewoond wil raak nie. Kinders moet nie só sterf nie. Hoekom moes hy so sterf?” wou Steenkamp weet.

Adam Alexander, ’n plaaslike pastoor en gemeenskapswerker wat namens Jonas se familie met die media gepraat het, sê sy dood was een kind te veel.

“Die familie, en veral sy ouma by wie hy grootgeword het, is gebroke en soek antwoorde. Sy ouers se omstandighede is nie so goed nie en sy ouma het hom meestal grootgemaak, dus is dit te verstane dat sy gebroke is,” sê Alexander.

Volgens hom bestaan daar ’n sterk vermoede dat Jonas tydens ’n bende-inisiasie doodgeskiet is. “Wat bendes uit ander gemeenskappe doen, is om jong kinders te werf. Hulle stuur dan die kinders na gebiede waar hulle nie geken word nie om iemand dood te skiet om hul lojaliteit te bewys. Van die vriende wat saam met Ashwin was, sê hy het uitgeroep dat sy bene brand, wat vir ons sê hy is eerste in sy bene geskiet. Hoekom moes hulle hom so baie keer skiet – meer as 20 keer om ’n jong kind dood te maak?” sê Alexander.

Jonas was deel van die Hood-program (Helping Others Obtain Dignity), wat deur Alexander aangebied word. Die program identifiseer vroeë probleme by kinders en help hulle om uit hul omstandighede te ontsnap. Hy het glo baie goed gevaar.

Jonas word op 15 Junie, wat sy dertiende verjaarsdag sou wees, begrawe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.