Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Skool val uitmekaar

Groot kommer heers onder ouers en onderwysers van die Laerskool Winsley in Bellville-Suid oor die haglike toestand van die skoolgebou, wat besig is om inmekaar te val.

Na aanleiding van die voorval by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark toe ’n voetoorgang ineengestort en leerders beseer en dood is, is August Wentzel, skoolhoof by die Laerskool Winsley, bekommerd dat dieselfde by sy skool kan gebeur.

“Ons skool is in 1975 geopen en staan in die gemeenskap bekend as die ‘plankie-skool’ omrede die skool hoofsaaklik van planke gebou is.

“Ek het in 2010 as hoof hier begin en is destyds deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement ingelig dat die plankgebou met ’n baksteengebou in 2013 vervang sal word. Tot op hede is ons nog steeds in die plankgebou en van die baksteengebou het dadels van gekom,” het Wentzel gesê.

Danksy die goeie samewerking tussen die ouers en die beheerliggaam word die skool geverf en herstelwerk gedoen, maar dis nie voldoende nie, het hy gesê.

“Sedert 2017 het die beheerliggaam doelbewus besluit om nie meer herstelwerk te doen nie en vir my as hoof is dit pynlik as ek soggens skool toe ry om die toestand van die gebou vanaf die pad te sien.

“Weens die blootstelling aan die wind en weer deur die jare is die hout besig om te verweer, die mure is gekraak, stukke van die sementbalkonne is besig om af te breek en waar van die mure by mekaar aansluit, is dit besig om weg te kraak van mekaar,” het Wentzel gesê. Volgens hom dra die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), die kring-bestuurder en diegene betrokke by spesiale projekte van die nasionale onderwysdepartement almal kennis van die haglike toestand van die skoolgebou. Hy wag op terugvoering van hulle oor wat die pad vorentoe is.

“Die ouers en beheerliggaam het ook kameras laat installeer om te help om inbrake by die skool te bekamp. Die herstelwerk aan die skool is nie my grootste bekommernis nie, die veiligheid van die leerders en die onderwysers is nou eerste prioriteit.

“As jy in aanmerking neem dat my leerders uit haglike omstandighede kom, kan ek nie toelaat dat hul huishoudelike omstandighede ook na die skool oorspoel nie.

“My ouers raak ook nou negatief, want hulle sukkel om te sorg dat hul kinders die beste kry, wat nie vir hulle as ouers voorheen beskore was nie.

“Daarom is dit vir my belangrik dat die skool, wat bedags van 08:00 tot 15:00 na die veiligheid van die leerders moet omsien, alles in sy vermoë doen om dit te verseker,” het Wentzel gesê.

Hy het ook bygevoeg dat die herstelwerk aan skole die verpligting van die onderwysdepartement is. Teen druktyd het die WKOD nog geen kommentaar gelewer nie.

  • Vertel TygerBurger wat jy van hierdie berig dink by briewe@tygerburger.co.za.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.