Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Skool weer voltallig

Nadat die skool verlede week die groen lig van die provinsiale onderwysdepartement gekry het, is die Laerskool Brackenfell die eerste skool in Brackenfell om volgende week weer na ’n vol skool terug te keer.

Faffa Coetzee, skoolhoof, het verlede Maandag (15 Junie) namens die skool se bestuursraad by dié onderwysdepartement aansoek gedoen om vrygestel te word van die voorgestelde departementele infasering van leerders by skole landwyd. Hy is ’n dag later skriftelik deur Brian Schreuder, Wes-Kaapse onderwyshoof, in kennis gestel dat hul aansoek suksesvol was en die skool die proses kan begin om al sy leerders te laat terugkeer.

Nasionale wysigings wat bepaal dat ’n skool toegelaat mag word om af te wyk van infasering van leerders, is op 1 Junie bekend gemaak.

Volgens Coetzee is sy personeel van 125 onderwysers, ondersteuningspersoneel, assistente en skoonmakers oorgehaal om die skool se leerders terug te verwelkom en opgewonde oor die vooruitsig om weer ’n vol skool te hê.

“Al die ouers sal deeglik ingelig word oor die nuwe protokol en gebruike by die skool wat weens Covid-19 genoodsaak word,” sê Coetzee.

Volgens hom is hierdie departementele magtiging onderhewig daaraan dat die Laerskool Brackenfell aan al die regering se minimum gesondheids- en veiligheidsvereistes en -voorwaardes sal voldoen. “Dit behels dat al die nodige fisieke gesondheids- en afstandvereistes nagekom moet word, alle leerders te alle tye met Covid-19-maskers toegerus sal wees en al die gebruike om besmetting te voorkom, toegepas moet word.

Ingevolge die ooreenkoms sal die Laerskool Brackenfell deurentyd ondergeskik wees aan toesigmaatreëls en inspeksies deur die departement en word die skool aangeraai om al die moontlike te doen om te verseker dat al die vereistes te alle tye nagekom word.

“Die vergunning aan dié skool beteken dat die leerders in twee groepe sal terugkeer skool toe. Op Maandag 29 Junie sal die leerders van graad 1, 3 en 6 terugkeer skool toe, terwyl grade R, 2, 4 en 5 hulle ’n week later op 6 Julie sal volg.

Die Hoërskool Brackenfell het ook aansoek gedoen om die vergunning, maar het tot dusver nog net goedkeuring gekry om sy graad 11’s op Maandag 29 Junie terug te verwelkom.

“Ons wag nog om te hoor of ons aansoek vir die ander grade suksesvol was,” sê die hoof, Jannie Muller.

Beide Proteahoogte Akademie en Laerskool Bastion in Proteahoogte sal hou by die oorspronklike infasering van die ander grade op 6 Julie (grade 1, 2, 3, 6, 10 en 11) en 3 Augustus (grade 4, 5, 8 en 9), het woordvoerders van dié skole vandeesweek bevestig.

Volgens die provinsiale onderwysdepartement is 188 openbare skole in die provinsie se aansoeke om wysiging goedgekeur.

“Hierdie wysigings was hoofsaaklik bedoel om onafhanklike skole en in uitsonderlike omstandighede, sommige openbare skole, te help,” sê Kerry Mauchline, woordvoerder vir Debbie Schäfer, minister van provinsiale onderwys.

“Dis nie bedoel om die terugkeer van leerders na openbare skole te versnel nie,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.