Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Skoolgelde styg skerp volgende jaar

Ouers met skoolgaande kinders by staatskole kan hulle regmaak om die gordels selfs stywer te moet intrek in die nuwe skooljaar.

TygerBurger het navraag gedoen by verskeie skole in Durbanville en Bellville en die meerderheid se skoolgeld verhoog met tot 9% in 2019, wat ver bo die inflasiekoers van 5,1% is.

Die Hoërskool Durbanville se ouers gaan aanstaande jaar R28 250 opdok teenoor vanjaar se R25 900 – dus ’n 9% styging.

Volgens George Germishuys, skoolhoof, is dit te wyte aan ’n kombinasie van faktore.

“Die skool word gedwing om twee ekstra opslaanklaskamers te bou, omdat daar nie genoeg plek vir al die leerders is nie.

“Die skool het baie vinnig die afgelope paar jare gegroei en bars uit sy nate met 1110 leerders in 2019,” het hy gesê.

Volgens Germishuys moet die skool met sy groter leerdertal ook ekstra personeellede aanstel.

“Ons is ook besig om ’n nuwe skoolsaal of nutssentrum te bou. Ons benodig ’n groter saal vir saalbyeenkomste. Dit sal dit moontlik maak dat al ons matrieks in een lokaal eksamen kan skryf. Die saal sal ook vir binnenshuise netbal en hokkie aangewend word,” het hy gesê.

Die nuwe skoolsaal sal 1 500 leerders kan akkommodeer en sal ook ’n kafeteria en koffiekroeg bevat.

Die skool gaan aanstaande jaar ’n rekordgetal van 246 graad 8-leerders inneem. Die getal matrieks wat vanjaar voltooi het, was maar 174 leerders, wat ’n aanduiding van die skool se groei is, het Boshoff gesê.

In 2017 was daar 23 personeellede, terwyl daar aanstaande jaar 29 personeelede sal wees. Die poste word uit die skoolfonds betaal en met salarisverhogings moes die staat se 8%-verhoging ook in ag geneem word, het hy gesê.

Die Hoërskool Stellenberg se skoolgeld styg van R25 100 na R26 510 – ’n styging van slegs 5,7%.

Volgens Attie Butler, voorsitter van die ouerbeheerliggaam, het hulle vanjaar die verhoging laag probeer hou ná ’n 10%-verhoging verlede jaar om voorsiening te maak vir kapitale projekte.

“Ons moes verlede jaar ’n kwaai styging implementeer om dringende opknapwerk aan ons elektriese bedrading te doen. Die kragtoevoer het aaneen ge-trip en ons moes ook ons elektriese infrastruktuur uitbrei vir ons lugversorging.

“Ons moes ook van ons rekenaars in die IT-klaskamers opgradeer,” het hy verduidelik.

Hoewel die Hoërskool D.F. Malan se skoolfonds van al die skole wat gekontak is, met 9,4% die meeste verhoog – van R24 850 na R27 200 – is die skool se skoolfonds die laagste van al die skole buiten Stellenberg.

Ouers kry ook van aanstaande jaar die geleentheid om die skoolgeld oor elf maande pleks van die gebruiklike tien maande af te betaal om die maandelikse las op huishoudings te verlig.

Ook die plaaslike laerskole het verhogings in skoolfonds van tussen 8 en 10% aangekondig.

Die Laerskool Gene Louw het die hoogste styging van 10,3% met ’n verhoging van R16 400 tot R18 100 ingestel.

Die Laerskool Eversdal se skoolfonds styg met 9,2% – dus van R18 290 na R19 980. Die Laerskool se Durbanville se skoolfonds styg met 8,1% van R17 100 na R18 500.

Vertel TygerBurger wat jy van hierdie berig dink by briewe@tygerburger.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.