Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Spur-rowers 14 jaar agter tralies
sakevertroue

Geregtigheid het geskied in die saak waarin drie rowers in Augustus 2016 helder oordag by die Silver Creek Spur in Durbanville toegeslaan het.

’n Polisiebeampte is in die kop geskiet en twee van die rowers is gewond in ’n jaagtog en oor-en-weer-skietery wat daarna gevolg het. (“Rooftog skokkend vir almal”, 24 Augustus 2016, TygerBurger).

Die beskuldigdes, Lucky Dyantyana (34) van Samora Machel in Philippi, Thabo Magebu (27) en Bongikosi Mchasa (39), albei van Mfuleni, is 35 jaar tronkstraf opgelê.

Van hul tronkstraf sal samelopend uitgedien word en hulle sal effektief 14 jaar tronkstraf uitdien, het kapt. Marchel Rhode, woordvoerder van die Durbanville-polisie, gesê.

TygerBurger het destyds berig twee rowers het op 22 Augustus omstreeks 11:10 aan die agterkant van die Silver Creek Spur – skaars 50m van die Durbanville-polisiekantoor – by die agterdeur ingeglip toe die deur oopgemaak is vir kosaflewerings.

Die derde rower het buite gewag.

Die rowers is na die kantoor, waar een van die bestuurders op daardie tydstip besig was om die aflewering te ontvang. Hulle het haar gedreig en haar verloofring en polshorlosie, asook haar handsak en selfoon, gegryp en uitgehardloop.

Die polisie het inligting ontvang dat die rowers naby Wellingtonweg in ’n rooi minibus-taxi gespring en in Durbanville-rylaan in die rigting van Bellville weggejaag het.

Konst. Jonathan Stuurman en ao. Frikkie Williams het die rooi Toyota Quantum-minibus in Durbanville-rylaan gewaar en agterna gejaag, en dit op die hoek van Eversdalweg afgetrek.

Terwyl die polisiebeamptes uit die polisievoertuig geklim het, het die drie verdagtes uit die rooi minibus gespring en op die beamptes begin skiet.

Die polisiebeamptes het teruggeskiet, maar Williams is skrams aan die regterkant van sy kop getref. Een van die rowers is in die skietery in die regterbobeen en ’n ander in die regterarm gewond. Die rowers het in verskillende rigtings in die omliggende woonbuurte op die vlug geslaan.

Die polisie het ’n polisiehelikopter se hulp ingeroep op soek na die verdagtes.

Sekerheidsbeamptes het oor die radio van die rooftog gehoor en verskeie sekerheidsmaatskappye het hulle na die gebied gehaas.

’n Sekerheidsbeampte het ’n verdagte in Kendalweg naby Sondalweg sien loop en gesien hoe hy agter ’n boom probeer skuil.

Hy het gesien hoe die verdagte iets agter die boom wegsteek toe hy nader ry.

Hy het die man beveel om op die grond te lê en het die polisie ontbied.

Hy het ’n pistool in die boom weggesteek gekry.

’n Ander verdagte is ook kort daarna in Kendalweg in hegtenis geneem nadat ’n buurtwaglid hom opgemerk het.

Verskeie sekerheidsmaatskappye het daar opgedaag en die man is in hegtenis geneem.

Hy is in sy regterbobeen gewond.

Die derde rower, wat in sy regterarm gewond is, is eers laatmiddag by ’n huis in Mountainview-rylaan in Eversdal, waar hy geskuil het, in hegtenis geneem.

Die drie beskuldigdes is in die Bellville-landdroshof skuldig bevind op sewe aanklagte, wat onder meer sakeroof, poging tot moord, onwettige besit van vuurwapens en ammunisie insluit.

  • Ao. Williams het volkome van die kopwond herstel en het in Junie ná 33 jaar diens afgetree.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.