Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Stellies-meisieskoor wen Bali-koorfees

Die Stellenberg-meisieskoor is as die wenners van die agtste internasionale koorfees in Bali in Indonesië aangewys.

Ouers en leerders het hulle op Woensdag 31 Julie by die Kaapstad Internasionale Lughawe verwelkom.

Dit was die sewende keer dat Stellenberg internasionaal deelgeneem het en 95 van die 105 koorlede het Bali besoek. Die koor het in twee afdelings, naamlik Musica Sacra en Teenager’s Choir, ingeskryf.

“Met die uitsondering van die 24 graad 8-leerders wat vanjaar by die koor aangesluit het, is nog 75 lede reeds vanaf graad 8 lid van die koor. Daar is ook 20 matrieks in die koor, waarvan 18 ook vanaf graad 8 lid van die koor is,” het Susan du Plessis, koorbestuurder en onderwyser by Stellenberg, gesê.

Die koor sal in 2020 fokus op internasionale deelname en sy grootste uitdaging sal die ATKV-Applouskompetisie wees, waar hy teen die beste kore in Suid-Afrika gaan deelneem.

“Dit is werklik ’n baie besonderse kind wat kans sien vir die uitdagings wat die koor inhou. Hulle leer van die begin af om balans tussen sport, akademie en kultuur te handhaaf.

“Tydens kompetisies toer die senior lede van die koor nooit sonder hul skoolboeke nie. Tyd word ingeruim om te studeer indien ’n kompetisie tydens die skoolkwartaal plaasvind,” het Du Plessis gesê.

Sy sê die koor het die meeste na die kompetisie en vlagparade in Bali uitgesien. Bali is ook bekend as ’n inkopieparadys en die winkels en markte is beslis verken.

“Dit was wel die koor se laaste toer van die jaar, maar sy laaste optrede is op Donderdag 15 Augustus wanneer hulle aan Koorklanke deelneem – ’n musiekfees saam met die Oranje-Meisieskool in Bloemfontein in die Hugo Lambrechts-ouditorium in Parow.

“Elke kompetisie is vir die koor ’n klein wonderwerkie. Omdat soveel van ons koorlede partykeer vir 36 maande hard werk om gedeeltelik en in sommige gevalle die volle bedrag vir hul toer betaal, is dit ’n onvergeetlike ervaring. Die tweede lewensles wat die koorlede leer, is dat sukses op alle vlakke van die lewe geweldig baie opoffering eis,” het Du Plessis gesê.

Die dirigent en komponis van die koor, André van der Merwe van Durbanville, word gereeld uitgenooi om as gasdirigent en beoordelaar by nasionale en internasionale kompetisies op te tree.

Hy is onlangs genooi om in Engeland, Swede, Duitsland, Japan en China op te tree. In 2007 was hy die beoordelaar in Wallis (Cor Cyru, Opus TV), in 2008 by die Wêreld-koorspele in Oostenryk en in 2009 by Musica Mundi in Hongarye en Namibië.

Hy het aanvanklik BMus aan die Universiteit van Kaapstad studeer, maar nadat hy sy hand beseer het, het hy sy studierigting verander na BDrama (dirigering) by die Universiteit Stellenbosch. Nadat hy sy studies voltooi het, het hy in Brackenfell en by Stellenberg onderwys gegee en teater en kore gedirigeer. Van 1990 tot 1996 het hy die regie vir teaterproduksies wat by die Grahamstadse Internasionale Kunstefees en ook die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn behartig. Hy het verskeie internasionale toekennings en pryse as akteur en regisseur ontvang. Hy was ook die stigter van die Pro Cantu Jeugkoor in 1997 en hul dirigent tot einde 2003. In 2013 is hy as die gewildste televisie-aanbieder vir die kykNET-program Fiësta aangewys.

Tans is hy die dirigent van drie kore – die Stellenberg-meisieskoor sedert 1999, die Stellenberg-seunskoor sedert 2015 en die Stellenbosse Universiteitskoor sedert 2003.

  • Rig navrae aan André by vox@telkomsa.net of Susan by duplessis@stellenberg.org.za.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.