Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Tasché bekoor die land

Tasché Burger, die wenner van die M-Net reeks The Voice SA, sê sy wil graag saam met haar afrigter, Francois van Coke, werk en musiek maak.

Dié 19-jarige is Sondag 7 Julie as die wenner van die kompetisie se derde reeks aangekondig.

TygerBurger het die finale ronde in Johannesburg bygewoon en het kort nadat sy as wenner gekroon is met haar ’n onderhoud gevoer.

“Dit voel amazing. Ek is nog steeds só geskok, maar ook baie dankbaar vir almal wat vir my gestem het. Hulle (die stemmers) het my lewe verander en ek sal seker maak dat ek almal trots maak,” sê Tasché.

Francois was in trane tydens die mediakonferensie en het aan haar gesê “ek is baie trots op jou en wil graag musiek saam met jou maak.”

Sy sê sy het vir die kompetisie ingeskryf omdat sy ’n platform vir musiek wou kry.

“Ek wou ook met die wonderlike afrigters werk en meer leer oor die bedryf,” het Tasché aan die koerant gesê.

“Dit was vir my belangrik om my voet in die deur te kry.”

Sy vertel wat haar reaksie was toe sy haar naam hoor: “Toe Anele my naam uitroep as die wenner, was ek heeltemal geskok. Ek het nie geweet wat om te doen nie. My ma en my pa het begin huil toe hulle op die verhoog kom. My trane wou kom, maar ek het gedink ek moet myself inhou ter wille van my make-up,” het sy skertsend gesê. “Dit voel nog steeds soos ’n droom.”

Tasché was net vier toe sy begin sing het. “Ek het nog nooit gevoel dat daar iets anders is waarmee ek só connect soos met sang en musiek nie. Dit sal altyd my eerste keuse wees.”

Sy het onlangs matrikuleer en is ’n deeltydse kelnerin in Brackenfell. Sy beskryf haarself as ’n natuurlike sangeres.

“Ek het nie gevoel asof ek sukkel in die kompetisie nie. As sanger is ek ‘anders’. Musiek is my passie en groot liefde.”

Haar plan is nie om nou te studeer nie omdat sy seker is haar plan A, wat sang is, sal ’n sukses wees.

“Hoekom het jy ’n plan B nodig as jy weet jy gaan hard werk om jou plan A die beste van jou lewe te maak? Ek gaan so hard werk om dit te laat werk,” sê sy.

Haar sangonderwyser van Brackenfell, Liana Marx, sê sy is baie trots op Tasché. Sy het ook die eindstryd in Johannesburg bygewoon.

“Ek was in trane toe haar naam uitgeroep is. Sy is vir die afgelope 10 jaar ’n sangstudent.

“Ons het gereeld gesels tydens die kompetisie. Soné Joubert, wat tweede gekom het in die kompetisie, is ook ’n student by ons skool,” het sy gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.