Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Tegniek is als, sê ‘voortrekker’

Francois Taljaard (45), ’n adjudant-offisier by die Goodwood-polisie en ’n inwoner van Monte Vista, neem in September as lid van die Protea-span aan die toutrek-wêreldkampioenskap deel.

Dit word vanjaar in Kaapstad gehou.

En as jy gedink het ’n toutrekker moet lyk soos ’n rugbystut, bewys Taljaard die teendeel. Hy vertel daar is verskillende gewigsafdelings – onderskeidelik 560, 640, 680 en 720 kg. Die span van agt lede se gesamentlike gewig moet dus minder as dit wees. Baie hang af van tegniek en die posisie waarin jy in die span trek, sê hy. Hy is ’n “voortrekker” en trek gewoonlik tussen posisie een en vier.

Taljaard trek al 27 jaar tou sedert hy in 1991 in die polisiekollege in Pretoria begin het. Hy geniet die krag, spanwerk en die dissipline van die sport. Destyds het hulle met weermagstewels getrek, maar deesdae gebruik hulle rollem- of yskaatsstewels wat aangepas word. Hul koop dit meestal tweedehands want dis maar duur.

Dié neiging het oorgewaai van Europa af, waar toutrek ’n gewilde sport is, sê hy. Die stewels word aangepas deur ’n harde plastieksool en ysterhak aan te heg nadat die lem of wieletjies verwyder is. Die sole is glad, soos wat die reëls vereis.

Hulle gebruik nie handskoene nie; daar word dus met kaal hande getrek. Hy skuur maar die eelte af, want dit kan seer word as dit te groot word, sê hy. En as dit wel te groot word, dan sny hy dit met ’n lemmetjie af. Hulle smeer wel ’n tipe gom aan hul hande. Taljaard sê hul gebruik ’n spesiale harpuis en petrol wat saamgekook word en dan ’n taai spul afgee wat hulle aan hul hande smeer vir ’n beter greep. Dit is toelaatbaar en word wêreldwyd gedoen, sê hy.

Alhoewel hulle bietjie in die gimnasium oefen en draf, bestaan oefensessies meestal uit toutrek.

Hy sê hul maak gebruik van ’n drom waarin gewigte van tot soveel as ’n ton geplaas word. Al agt manne trek dan aan die tou om die drom te hys oor ’n soort katrol en dit word dan in die lug gehou vir tussen 5 tot 20 minute. Dit kondisioneer die spiere vir die statiese krag wat vereis word.

Wat beserings betref, is dit gewoonlik die knieë en rug wat deurloop. Daarom is die regte tegniek belangrik, vertel hy. Hulle dra breë gordels om die middellyf te ondersteun en om hul sye te beskerm teen die wrywing van die tou.

Die wêreldkampioenskap vir seniors (ouer as 23 jaar) vind net elke twee jaar plaas en vanjaar is dit van 19 tot 22 September op die sportvelde van die Hoërskool Kampsbaai.

Taljaard het in 2016 die eerste keer sy Protea-kleure verwerf toe hy in Swede gaan deelneem het, waar Suid-Afrika negende uit 19 lande geëindig het. Hy het vroeër al in die ope afdeling (vir klub en provinsiale spanne) aan die wêreldkampioenskap in Switserland, Ierland en Engeland deelgeneem. Tans oefen hulle vier keer ’n week ter voorbereiding van die kampioenskap. Al weet hy vier dae se toutrek gaan sy tol eis, sien hy baie daarna uit. Om die styfheid af te weer moet daar goed opgewarm en weer afgekoel word ná elke deelname – veral strekoefeninge is belangrik, sê hy. Hul oudste lid by Valsbaai-klub is 58 en solank sy liggaam hou, sal hy aanhou met toutrek, sê die polisieman, wat al 20 jaar by Goodwood-polisie werk.

Vertel TygerBurger wat jy van hierdie berig dink by briewe@tygerburger.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.