Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Velodrome ‘steeds vir sport gebruik’
Bellville Velodrome entrance

Die publiek sal steeds die Bellville-velodrome en -atletiekbaan vir sport en ander byeenkomste kan gebruik.

So het James Vos, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese geleenthede en batebestuur, en Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, verlede week beklemtoon.

Dít kom nadat die stadsraad op Donderdag 31 Oktober finaal oor die lot van ontwikkeling beslis het.

“Alle sportspanne, skole en gemeenskapsgroepe wat tans die fasiliteite gebruik, word verseker van bekostigbare en billike toegang (tot die velodrome en atletiekbaan),” lui die verklaring.

Die ontwikkeling is al jare lank in die nuus nadat ’n tender al in 2009 aan die ontwikkelaar, Devmet, toegestaan is.

Daar het egter ’n hofgeding tussen die ontwikkelaar en die Stad Kaapstad ontstaan nadat Devmet nie ’n bykomende R25 miljoen wou betaal, wat die Stad vereis het vir die verbetering van die omliggende padnetwerk nie.

Die Stad en Devmet het egter in die afgelope paar jaar ’n ooreenkoms bereik en die publiek kon nog tot Augustus hul insette gee oor wat met die erf moet gebeur.

Daar is twee erwe by die velodrome ter sprake: die een is die velodrome en atletiekbaan, en die ander die aangrensende oop stuk grond.

Die velodrome en atletiekbaan gaan nou vir 30 jaar deur Devmet opgeknap, bestuur en verhuur word. Vos en Badroodien sê die Stad bly die eienaar van die velodrome en dit bly ’n openbare bate totdat die huurooreenkoms verstryk.

Devmet gaan egter ook die aangrensende oop stuk grond gebruik om sy Galleria-ontwikkeling te bou, wat ’n hotel, winkels en woonstelle insluit.

Vos en Badroodien beloof dat die velodrome verbeter gaan word om (meer) sportgeleenthede in te sluit en bemark gaan word vir die aanbied van konserte, skoue en uitstallings.

Die koste vir die gebruik van die fasiliteit sal in oorleg met sportbeheerliggame bepaal word.

Die raad het onder meer die volgende aanbevelings aanvaar: dat ’n span onder leiding van die Stad Kaapstad se departement van ontspanning en parke binne 30 dae saamgestel sal word.

Hierdie span se prioriteit sal wees om die interaksie tussen die fasiliteit, sportklubs, skole en gemeenskapsgroepe te bevorder.

Die span sal onder meer verseker dat alternatiewe fasiliteite vir die duur van die konstruksietydperk gereël sal word in ander fasiliteite wat aan die Stad behoort.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.