Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Verbind tot verbetering

Die burgemeester Dan Plato het verlede week besoek afgelê aan Brackenfell as deel van sy Luister-toer – ’n inisiatief om sy visie vir Kaapstad met inwoners te deel en om na hul klagtes te luister.

Die goeie nuus is dat Plato hom ernstig verbind tot die uitstryk van probleme wat inwoners ondervind. Die kommerwekkende nuus was die swak opkoms van inwoners tydens die openbare vergadering wat Donderdagaand in die burgersentrum plaasgevind het. Net sowat 24 inwoners het opgedaag.

Plato was vergesel deur Rhynardt Bresler, wyksraadslid in Brackenfell, Denise Robinson, ’n DA-parlementslid en hoof van die kiesafdeling, en dr. Ivan Meyer, minister van finansies in die Wes-Kaap.

Tydens sy toespraak het Plato gemeld dat hy verskeie prioriteite ten doel stel vir die Stad Kaapstad – eerstens die verskerping van doeltreffende dienslewering in die stad, tweedens die doeltreffende besteding van openbare geld en derdens die aandag wat verkeers- en ander infrastruktuur moet kry.

“My boodskap aan die amptenare oor dienslewering was op die man af. Hulle sal moet béter doen. Die enigste manier om dienslewering te verbeter is om die regte persoon in die regte posisie aan te stel.

“Belastingbetalers het ook die reg om te weet hoe hul geld aangewend word en dat dit nie gesteel word nie.

“Sowat 83% van munisipaliteite het skoon oudits gekry. Ek erken dat ons probleme het in die Stad en nog nie weet hoe die Stad Kaapstad se oudit gaan lyk nie. Ons sal daaraan aandag moet gee sodra ons dit kry,” het Plato gesê.

Verskeie van die teenwoordige inwoners het hul ongelukkigheid uitgespreek oor verkeersophoping in Brackenfell en ook oor die swak beplanning met nuwe hoëdigtheidsontwikkelings, wat die situasie nog meer sal versleg.

Een so ’n ontwikkeling is die sogenaamde Andrag-ontwikkeling in Brackenfell-boulevard. Volgens Bonita Conradie het die Stad die ontwikkeling goedgekeur sonder om inwoners se regmatige besware in ag te neem.

“Daarbenewens is ons ook nie die geleentheid gegun om appèl aan te teken nie. Die Stad het ons ’n rat voor die oë gedraai deur ons met die verkeerde afsnydatum vir appèl te voorsien en ons so van ons reg ontneem het om gehoor te word,” het sy gesê.

Conradie en ander inwoners in Vredekloofhoogte is dus vanjaar genoodsaak om derduisende rande in te samel om regshulp te bekom om die saak in die hooggeregshof op hersiening te neem.

“As inwoners en belastingbetalers is ons hierdeur onregverdig benadeel. Hoewel ons nie in beginsel teen ontwikkeling gekant is nie, kan daar nie toegelaat word dat nuwe ontwikkeling plaasvind sonder die nodige padinfrastruktuur nie.

“Die verkeersimpakstudies is in isolasie gedoen en beperk tot klein areas en hou dus nie die groter prentjie in gedagte nie,” het sy gesê. “Dis juis die rede waarom ons tans hierdie erge verkeersopeenhopings ervaar.”

Johan de Lange het by haar aangesluit en gevra dat ’n algehele verkeersimpakstudies gedoen word in die area tussen Klipheuwel en Bottelary.

“As gevolg van druk verkeer ry tot trokke al deur ons eens stil state om verkeersopeenhoping te ontduik.”

“Dis so erg dat ons nie soggens uit ons afritte kan kom nie,” het ’n ander inwoner gemeld.

Plato het gesê dat hy dringende aandag aan die kwessies gaan gee en inwoners van terugvoering sal voorsien.

“As ’n administrasie moet ons gehoor gee aan hierdie kwessies,” het hy gesê. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.