’n Polisielid wat Dinsdagaand
doodgeskiet is se selfoon is Woensdagoggend by rowers gevind nadat hulle in ’n aparte voorval ’n besigheid in
Bellville beroof het.
Volgens brig. Novela Potelwa, provinsiale
polisiewoordvoerder, het ’n onbekende aantal rowers
vroegoggend skote by ’n onderneming in die Bellville
sakekern afgevuur voordat hulle items gesteel en weggejaag het.
Binne ’n uur ná
die voorval het die blitspatrollie egter twee van die rowers in Mfuleni in
hegtenis geneem en op 17 selfone en twee vuurwapens beslag gelê.
Een van die fone het aan ’n speurder
(42) behoort wat Dinsdagaand in Delft-Suid beroof en doodgeskiet is. Hy was aan
die Elsiesrivier-polisiekantoor verbonde.
“Die polisie ondersoek tans die
moontlikheid dat een van die vuurwapens dié van die
polisiebeampte is,” sê Potelwa.
Die twee verdagtes, van onderskeidelik 26 en 32 jaar oud,
sal binnekort in die hof verskyn.