SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Nuus
Freda lê ná 40 jaar tuig neer

Ná meer as vier dekades as verpleegster het die Tygerberg-hospitaal se eie Florence Nightingale besluit dit is tyd vir haar om haar olielamp se liggie finaal dood te blaas.

Freda de Kock het 42 jaar as verpleegster gewerk.

Om haar afskeid te vier, wou Freda nog altyd die hospitaal te perd verlaat as ’n laaste totsiens.

Dié droom is verlede Woensdagoggend verwesenlik toe haar kollegas haar met ’n perd en partytjie verras het.

Freda, ’n inwoner van Brackenfell, het ’n liefde vir perdry en doen dit nou al 15 jaar lank.

“Daarom het een van my vriende dit goed gedink dat ek op die laaste werksdag met ’n perd ‘wegry’ van die hospitaal af – iets wat vir my ’n groot verrassing was.

“Dit het werklik my asem weggeslaan en ek dink ek is seker die eerste en enigste mens wat in ’n verpleeguniform op ’n perd se rug geklim het,” sê sy.

Haar afrigter by die Green Acres-ryskool het een van haar gunstelingperde na die hospitaal gebring ná talle logistieke reëlings eers getref moes word. My kollegas het hierdie geheim vir twee weke so goed bewaar, dat ek geen snuf in die neus gekry het nie.”

De Kock het haar grootwordjare op Marchand – ’n klein Noord-Kaapse dorp op die oewer van die Oranjerivier – deurgebring.

Sy vertel dat sy en haar tweelingsuster as klein dogtertjies reeds al speel-speel “verpleeg” het deur beseerde voëltjies gesond te dokter.

“Ons was ons ouers se laatlammers, met ’n broer wat 17 jaar ouer was en ’n suster 13 jaar ouer.

“In graad 11 het ons ouers ons in die Julie-skoolvakansie in 1976 na die Tygerberg-hospitaal gestuur sodat ons kon seker maak of ons verpleging as beroep wou kies. Daarna was ons vuur en vlam,” onthou sy.

Ná hul skoolloopbaan by die Hoërskool Martin Oosthuizen op Kakamas, het die twee susters op 1 Januarie 1978 met hul beroep as verpleegsters by die Tygerberg-hospitaal begin.

“Ná ons ons basiese kursus in Junie 1981 voltooi het, het my suster ander weivelde in verpleging gaan soek, maar ek het in 1983 verder studeer aan Unisa vir my BA-graad in verpleegonderwys en gemeenskapsgesondheid.”

Sy het in haar tweede jaar as student ’n belangstelling in onkologie ontwikkel. Sy het ’n diploma in onkologiese verpleegkunde in 1985 voltooi. Sy het ook ’n diploma in verpleegadministrasie aangepak.

Van 1982 tot en met haar aftrede was Freda betrokke by die onkologie-departement by die Tygerberg-hospitaal – spesifiek in die chemoterapie-behandelingskamers.

Sy het vir ’n dekade ook klas gegee by die Otto du Plessis-verpleegkollege, wat aan die Tygerberg-hospitaal verbonde is.

“Die hoogtepunt in my loopbaan was toe ek my meestersgraad in onkologiese verpleegkunde voltooi het; en elke dag wat ek ’n verskil kon maak in die lewens van ’n kankerpasiënt en sy of haar familie.

“Om ná bykans 42 jaar – waarvan ongeveer 36 jaar in onkologie – af te tree, was vir my hartseer, maar ook bevredigend. Hartseer omdat ek my pragtige kollegas en pasiënte moes groet; en bevredigend omdat ek weet ek het elke dag daarna gestreef om net my beste te gee in pasiëntesorg en die opleiding van nuwe onkologiese verpleegkundiges,” sê De Kock.

Haar planne vir die toekoms is om ’n vriendin van haar op ’n meer voltydse basis by haar hondesalon te help.

“Ek wil meer tyd met my familie deurbring en ek wil bietjie reis as die gesondheid dit toelaat. Ek is ongetroud en al kinders wat ek het is drie hondjies en ’n kat, want my ander groot liefde buiten kankerpasiënte is diere – alle soorte, maar veral honde, katte en perde. Net nie muise, vlermuise en slange nie,” skerts sy.

Freda glo daarin om gesond te leef, gesond te eet en genoeg oefening te kry.

“Dit hou jou gesond en vol lewenslus. Soos die spreekwoord lui – ledigheid is die duiwel se oorkussing.

“My motto in die lewe is: moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie, en as jy iets doen, doen dit voluit. Nog ’n belangrike motto in my lewe is: dade spreek baie meer as woorde. Jou dade moet dus jou woorde weerspieël.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.