Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Vertroueling’ hou sommer baie gevare in vir tieners

Die gesegde dat mense se beste vriende honde is, is dalk nie meer altyd van toepassing nie.

Deesdae is dit dikwels eerder slimfone wat die plek van ’n naaste vertroueling inneem.

Ongelukkig besef die gemiddelde persoon nie die gevaar van hierdie toestelle nie, altans nie totdat hulle deur hierdie sogenaamde beste vriend gebyt word nie.

Prof. Elmarie Biermann van Durbanville en direkteur van die Cyber Security Institute van Suid-Afrika meen die meeste mense se persoonlike inligting is gans te maklik beskikbaar. Daarom sien die instituut dikwels hoe identiteite gesteel word, foto’s gebruik word vir kinderpornografie en miljoene rande uit rekeninge gesteel word.

Dit is veral tieners wat te veel persoonlike inligting aanlyn deel, meestal op sosiale netwerke soos Instagram. ’n Foto van ’n vliegtuigkaartjie voel dalk vir die tiener na ’n gepaste manier om hul vlug te vier, maar as die strepieskode sigbaar is, kan dit maklik met ’n toep geskandeer word. Sodoende kan kuberskurke maklik persoonlike inligting van die reisiger bekom. Tieners stuur ook maklik naakfoto’s vir mekaar. Biermann, wat in Durbanville bly, sê hierdie foto’s sal beslis buite jou vriendekring aangestuur word. Uiteindelik kan dit op internasionale pornografiewerwe land en is dit haas onmoontlik om te verwyder.

Tieners (en volwassenes) moet verstaan hoe inligting teen hulle gebruik word, sê Biermann. Daarom bied die Cyber Security Institute gereeld slypskole aan om mense en organisasies te leer om die gevare en risiko’s van die internet te vermy. Nou gaan die groep ook op tieners fokus. Dit is nie net vir enige tiener nie, maar vir dié wat in kubersekerheid belangstel. In die komende skoolvakansie gaan “kuberkraak 101”-slypskole dwarsoor die land aangebied word. Hier sal tieners by kundiges oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe leer, onder meer DOS-bevele, Putty, Linux, Topologie en hoe om wagwoorde te kraak. Hulle sal ook ingelig word oor die wetsaspekte van die bedryf, veral aangesien die internet ’n wêreldwye impak het. Biermann meen op hierdie manier sal hulle tieners kan wys hoe om op ’n etiese wyse hul stokperdjie te beoefen. “Tieners is nuuskierig. Leer hulle eerder oor die gevare as wat hulle dit self probeer bemeester.” Hulle hoop ook om in die proses ’n hele nuwe geslag kubersekerheidspesialiste te betrek. Die bedryf vir kubersekerheidspesialiste in Suid-Afrika is baie klein, sê Biermann. Daar word nie eens in Suid-Afrika op voorgraadse vlak ’n vak in hierdie rigting aangebied nie.

. Die instituut se Hacking 101-kursus vind van 25 tot 29 Junie in Kaapstad plaas en kos R3 900. Dit is gemik op leerders in gr. 11 en gr. 12. Tieners hoef nie oor vorige kennis van die onderwerp beskik nie, maar moet hul eie ’n skootrekenaar na die slypskool bring. Besoek https://ww2.cybersecurityinstitute.co.za/hacking101 vir meer inligting oor die kuberkraakskool.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.