Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vrae ná moord op pa

Jool Bruwer (69) was ’n “moeilike man,” vertel bure en sy familie.

Maar wat die aand van sy moord gebeur het, sal niemand dalk ooit weet nie.

Dié stil buurt van Chrismar is twee weke gelede geruk nadat Jool in sy huis in Hilda-straat vermoor is.

Bure het gaan ondersoek instel nadat hulle ’n geskreeu in die huis gehoor het. Hulle het die deur afgebreek en Jool se seun, Etienne (31), met bloed aan sy voete aangetref.

Jool se lyk was in die kombuis. Etienne is in hegtenis geneem en is later op borgtog van R10 000 vrygelaat. Hy sal weer op 25 Augustus in die hof verskyn.

Buiten Etienne, het Jool nog twee kinders, Naomi (29), ’n regsgeleerde wat in Kaapstad bly, en Jacques (35), wat in Amerika bly. Hul ma, Anzabeth, is in 2006 aan kanker oorlede.

Naomi het by navraag gesê nie een van hul kinders het ’n goeie verhouding met hul pa gehad nie. “Hy wou nie ’n verhouding met ons hê nie. Dit is so eenvoudig soos dit. Hy was ’n terrible dad at best.”

Etienne het vir ’n paar maande voor die begin van die inperking tydelik by sy pa ingetrek terwyl hy werk gesoek het. Hy het vryskutwerk in die filmbedryf gedoen en het ’n kwalifikasie in IT voltooi. Hy het tevore op sy eie in Bellville gebly.

Marisa Smit, wat oorkant die Bruwers bly, sê sy het nooit regtig praatjies met die gesin aangeknoop nie. “(Jool) was baie kort van draad. Hy was nie ’n aangename mens nie.”

Verskeie bure het hierdie sentiment beaam. “Ons simpatie is eintlik by Etienne,” het een vrou, wat nie haar naam wou gee nie, laat hoor.

’n Ander buurvrou sê hulle het aanvanklik gedink dis net nog ’n aand se bakleiery omdat Jool gedurig op Etienne geskree het.

“Hy het een keer op hom geskree omdat hy die verkeerde skottelgoed eerste gewas het. Om eerlik te wees, ons is nie verbaas dat Jool sy end gekry nie; ons is net verbaas dit is Etienne (wat daarvoor in hegtenis geneem is).”

Naomi sê hulle as kinders gaan nie ’n begrafnis vir haar pa hou nie omdat die inperking dit moeilik sal maak om by te woon vir diegene wat ’n verhouding met hom gehad het. Sy gaan wel van sy as vir sy vriendin gee, asook vir twee familielede met wie hy ’n verhouding gehad het. “Hulle sal dan sy as strooi op plekke wat vir hom spesiaal was en ek hoop hy vind vrede daar.”

Sy wil nie bespiegel wat op die aand van die moord gebeur het nie, maar sê haar pa, “wat ’n bottel whiskey ’n dag gedrink het”, was weens die inperking sonder alkohol en sigarette.

Etienne ly nog aan skok, sê sy. Soos hulle almal. “Hy is nog altyd die sagte, kreatiewe een.” Sy raak stil voor sy praat. “’n Buurvrou het my vertel in al die jare wat hulle gehoor het hoe my pa afgaan op my broer, het hulle hom nooit iets hoor terugsê nie.”

Die lewe is gekompliseerd en haar gevoelens oor alles ook.

“Ek is verskriklik sad dat Etienne daar moes wees tydens lockdown. Hy het so baie, baie talente wat nooit deur enigiemand waardeer is nadat my ma oorlede is nie.”

Naomi sê die hele situasie is vir haar geweldig skokkend. “Dis verskriklik. Ek sal nooit wens dat iemand vermoor word nie,” benadruk sy. Sy sê egter niemand moet ’n inperking beleef saam met iemand soos haar pa nie. Hy was ’n onbetrokke pa wat ons altyd afgeknou en berispe het. Hy het my ma nooit met respek hanteer nie en het haar oor onbenullighede gestraf.”

Skakel die Family and Marriage Association of SA (Famsa) by 021 946 4744 indien jy hulp vir huishoudelike mishandeling benodig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.