Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vrou dok duisende op vir Telkom-fout

’n Pensioenaris van Kraaifontein het meer as R5 000 opgedok toe Telkom haar met regsaksie gedreig het oor ’n foutiewe rekening.

Dalene Bester het in April vanjaar haar selfoonkontrak opgradeer, maar versoek dat haar vorige drie rekeninge gekanselleer moet word.

Dié rekeninge is egter nooit gekanselleer nie, maar nuwe onbekende nommers is daaraan toegeken sonder haar medewete.

Met haar volgende rekening was die bedrag ’n massiewe R5 500 vir die drie onbekende nommers.

“Telkom het sonder enige verdere verduideliking gedreig om my ma aan hul prokureurs te oorhandig as sy nie betaal nie. Sy betaal dit toe uit vrees, maar wag tot vandag toe nog om te hoor hoekom haar rekening so hoog was en waar die onbekende nommers vandaan kom,” sê haar dogter, Esmé van der Merwe van Brackenfell.

Telkom het beloof om Bester binne 72 uur ná betaling te kontak. “Hulle kom net nooit terug na ’n mens toe nie. ’n Mens krap nie net R5 500 agter ’n bos uit vir foute wat Telkom maak nie. Dis bitter swak diens,” sê Van der Merwe.

Volgens haar was die takbestuurder by Telkom se CapeGate-tak of nooit beskikbaar nie, of nooit daar nie.

“Toe ons hom toevallig die een dag daar kry, het hy ook belowe om ons die volgende dag te skakel en tersaaklike dokumente aan ons te e-pos. Dit het egter ook nooit gebeur nie.”

Dis eers nadat TygerBurger ’n medianavraag aan Telkom gerig het, dat Bester gekontak is.

’n Telkom-woordvoerder het aan TygerBurger verduidelik dat daar met verdere ondersoek bevind is dat Bester se drie ander rekeninge nie soos versoek is deur haar gekanselleer is nie.

“Ongelukkig is die kansellasies nie deurgevoer nie. Ons vra om verskoning vir die verwarring en frustrasie wat deur hierdie situasie geskep is, en ons het ons prosesse hersien om te voorkom dat dit weer gebeur,” het ’n Telkom-woordvoerder verduidelik.

Telkom het bevestig dat hulle Bester se rekening gekrediteer het en ook versoek het dat enige negatiewe aanduiding op haar kredietrekord verwyder word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.