Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Walvis-museum ’n besoek werd

Parow is geleë sowat 20 km, oftewel ’n halfuur, van die naaste strand af. Dit is dus beslis die laaste plek waar ’n mens sou verwag om by ’n walvismuseum in te stap.

Die Khoisan-, Walvis- en Mariene Mu-seum, soos dit heet, is geleë te Hopkinsstraat 5, waar Ken Botes (69), uitvoerende hoof en voormalige walvisstasie-inspekteur, besoekers verwelkom.

Volgens Ken is daar reeds in 2010 met die restourasiewerk begin aan die erfenisgebou wat in 1950 voltooi is.

“Die dag toe ons hier instap, het die prostitute hier uitgehardloop.

“Haweloses het dit gebruik as blyplek en daar is oral ontlas. Mense het die deure, vensters en al die pype gesteel.

“Die plafon was bros en beskadig, die vloere gebreek en mure beskadig,” het Ken aan TygerBurger tydens ’n besoek aan die mu-seum verlede week vertel.

Dit het drie jaar geneem om die gebou op te knap.

Die opknappingswerk is gedoen met behulp van donateurs, vrywilligers, mense wat daarin belê het en nie-regeringsorganisasies, waarvan sommige tot vandag toe nog die museum help.

Binnekant is daar heelparty uitstallings wat oud en jonk sal verstom – veral die miljoene jare oue skelette van verskillende tipes walvisse, die oeroue wapens van die Khoisan (die eerste walvisjagters in Suider-Afrika) en verskeie ander mariene lewe.

Ken, wat jare lank as inspekteur in die walvisjag-bedryf in Durban in KwaZulu-Natal gewerk het, sowel as in Australië vir ’n ruk lank, sê die walvis en mariene lewe, sowel as die Khoisan-tradisie is sy passie en iets wat hy wil bewaar.

“Hier is ’n versameling van meer as 160 jaar. Sommige is tot 10 miljoen jaar oud. Daar is ’n versameling ter waarde van omtrent R2 miljoen hier.”

Weens ’n tekort aan ruimte kan al die artefakte egter nie uitgestal word nie.

Buiten die skelette, wapens en mariene lewe is daar ook harpoene, kanonne, verskillende kreefspesies, walvistande en alle soorte seespinnekoppe te sien.

Ken het ook ’n ruk lank by die munisipaliteit gewerk voordat hy die taak gegee is om die museum aan die gang te kry.

“Ons wou dit oorspronklik langs die kus hê en het gekyk na strande soos Monwabisi en selfs Melkbos.”

Monwabisi was dit egter ’n gevaarkwessie en Melkbosstrand was te ver van die skole en gemeenskappe wat hulle graag wou bedien, sê Ken.

Die museum ontvang gereeld skoolbesoeke.

Ken sê die museum is byna daagliks in gebruik.

“Ons is vol bespreek. Hier kom leerders en hier word ook kerk gehou.

“Nie-regeringsorganisasies hou gereeld vergaderings hier en maatskappye en regeringsdepartemente bied ook dikwels lesings hier aan,” sê Ken.

Opleidingskursusse word ook by die museum aangebied.

Volgens Ken moes die museum oor die jare ’n alarmstelsel installeer weens die gereelde inbrake. “Hulle breek meestal in vir die koper wat hulle vir dwelms verkoop. Dis artefakte van onskatbare waarde wat ’n mens nie weer gaan kry nie.”

Daar is tans planne om ’n muur rondom die gebou op te rig.

Ken sê sowat 2 000 besoekers kom jaarliks na die museum en moedig die gemeenskap aan om hulle aan te hou ondersteun.

Toegang tot die museum kos R45 per persoon. Pensioenarisse betaal R35 en skoliere R15. Studente kry ook afslag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.