Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Tiener mik vir sterre

Onthou haar naam, want Bianca Solomons (16) gaan bes moontlik eendag ’n superster wees.

Die nuus van hierdie jong operasangeres se talent versprei soos ’n veldbrand, ’n mens sien amper hoe die hoendervleis van verteller oorgedra word.

En wanneer mense boonop haar lewensverhaal hoor, raak baie skoon liries.

Solomons, wat ’n wendyhuis in Stikland saam met haar ma Ellen Fouché deel, is as ’n baba van ’n paar uur oud opgegee.

Ellen onthou hoe ’n vrou met ’n pasgebore baba vir water kom vra het. Gou wou die vrou egter nog ’n guns hê. “Sy’t gevra of ek gou na die baba kan kyk.” Ellen het ingestem, maar die vrou het nooit weer teruggekom nie.

Ná drie dae is Ellen na die maatskaplike dienste toe. Sewe maande later het die owerhede Bianca se biologiese ma opgespoor, maar sy’t gevra dat Bianca in Ellen se sorg bly.

Vir Ellen, wat self as kind aangeneem is, het Bianca se verhaal haar op ’n besonderse manier aangeraak.

Met drie ander kinders in die huis het dit soms broekskeur gegaan, veral toe Ellen se man sy werk verloor het en sy met motorneuronsiekte gediagnoseer is en self nie kon werk nie. Sy en Bianca het later na die wendyhuis op die erf van ’n vriendin getrek en ma en dogter deel al vir jare ’n eenslaapkamer-vertrek.

Mismoedigheid is egter nie ’n emosie wat hierdie twee onder kry nie. Hulle lag gedurig en spot mekaar. Ellen vertel hoe sy Bianca al menigte keer met items gegooi het om op te hou sing sodat sy darem net die nuus kan kyk.

Bianca het al singende grootgeword. Dit is steeds moeilik om haar te kry om op te hou wanneer sy eers begin het. Sy is versot op sing.

“Dit is soos my lewe,” beaam Bianca.As vyfjarige het sy veral die liedjies van Jan de Wet en die lofkleuters gesing. “Vir almal wat by ons aangekom het, het sy gesê ‘luister hier’,” vertel Ellen.Sy’t egter eers besef sy’t ’n besonderse talent toe Bianca haar eerste sangkompetisies begin wen het.

Sy het vier jaar gelede sanglesse by Maritza Truter begin kry en sedertdien het haar sang (letterlik) nuwe hoogtes bereik.Opera as styl van sing is vir haar vanselfsprekend. “Ek kan enige liedjie sing en dit klink soos opera.

”Dit is ’n moeilike kunsvorm en jou fondasies moet reg wees om dit te bemeester, vertel sy.Boonop is daar tans net een universiteit in die land (die Universiteit van Kaapstad) wat ’n program in opera aanbied.Verlede jaar het Bianca ’n bestuurder gekry nadat iemand haar by ’n konsert hoor sing het en die twee aan mekaar voorgestel het. Sedertdien is sy besiger as ooit tevore.

Sy sing gereeld by kerkdienste, het WP-kleure en SA-kleure vir sang en mik nou om die sowat R150 000 in te samel wat sy nodig het om in Amerika aan Talent America deel te neem.“My drome begin waar word.”

Sy het selfs ’n week gelede die opera-sangeres Lynelle Kenned ontmoet. Dié het vir haar touwys gemaak oor ’n paar fynere aspekte van opera.

Bianca, ’n leerder aan die Westcliff-vaardigheidskool, kan haarself maklik besig hou met ander dinge wanneer sy nie sing nie, vertel sy. Sy hou van drama, boeke skryf, lees, dans en musiek skryf.Hoewel haar lewe baie meer glansryk lyk as ’n paar maand gelede, stroom die geld egter nog nie in nie. Eers moet haar naam bekend word, sê sy. Sy weet egter sy wil haar ma eendag met haar sangtalent ondersteun.

Sing is ’n manier om vir ander te inspireer, glo sy. “Dit gaan daaroor om vir mense te wys jy moet jou talente gebruik,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.