Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Werk saam,’ vra SAPD

As die gemeenskap nie hul samewerking vir die polisie gee nie, kan hulle maar vergeet om bendes in Kraaifontein uit te roei.

Só sê brig. Gerda van Niekerk, stasiebevelvoerder van die veelbesproke Kraaifontein-polisiekantoor, in ’n breedvoerige onderhoud aan TygerBurger.

Verskeie klagtes is ontvang uit die gemeenskap van Kraaifontein oor bendes en oor die polisie se onvermoë om hulle hok te slaan. Ná aanleiding van hierdie klagtes het TygerBurger met Van Niekerk gaan gesels.

“Solank ons nie die inkoop van die gemeenskappe het waarin hierdie bendes funksioneer nie, is daar net soveel wat die polisie kan doen. Ouers beskerm hul kinders en inwoners van strate beskerm die bendes.

“Dit is nie vreemde wesens wat skiet en moor nie, maar mense wat in die gemeenskappe woon.

“Ek het nog nooit gehoor ’n ouer erken sy/haar seun was ’n bendelid nie. Dit is soms so erg dat ons vangwaens met klippe bestook word as ons op ’n klagte reageer. Moet ons daar ingaan en met beskadigde voertuie daar uitkom? Weet jy hoe lank dit neem om ’n voertuig weer op die pad te kry nadat dit beskadig is?” vra Van Niekerk.

Volgens haar is die gemeenskap ook net dankbaar wanneer hulle ’n blou lig sien.

“Ek glo die belangrikste is gespesialiseerde ondersoekwerk. Wanneer die polisie op die toneel opdaag, vang ons gewoonlik die voetsoldate, maar die groot visse kom weg.

“Ondersoekwerk is baie belangrik sodat ons by die sogenaamde kingpins kan uitkom, want hulle is die ouens wat vuurwapens in ons kinders se hande stop.

“Ander maatreëls wat ook help, is die aanbring van kringtelevisiekameras.

“In Scottsville het dit ons baie gehelp en ons kan sê die voorvalle van bendebedrywighede het baie afgeneem. In Scottsdene hoop ons die gemeenskap kan ons help,” sê sy.

Van Niekerk sê sy het al baie die bewerings gehoor dat lede van die Kraaifontein-polisie in die sakke van die bendes is.

“Ek is al beskuldig dat ek aan ’n bende behoort. Dan is ek ’n 27, dan ’n 28 en dan ’n 26. Daar is prosesse wat gevolg moet word wanneer polisielede beskuldig word en ek nooi almal uit om met sulke bewyse na my te kom. Deur die jare is daar seker vyf amptenare weg, wat aan bedrog skuldig bevind is, maar ek kan jou verseker my span werk hard om bendes hok te slaan,” sê sy.

Van Niekerk sê binnekort gaan daar basiskampe by brandpunte in Kraaifontein ontplooi word. “Ons gaan een in Wallacedene kry waar verskillende wetstoepassingsagentskappe ontplooi gaan word. As dit suksesvol is, wil ons aansoek doen vir nog in ons gebiede. Intussen vra ek vir groter samewerking van die gemeenskap.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.