Die eerste rugbyspanne van D.F. Malan en Stellenberg kan spog met oortuigende oorwinnings in hul interskole-kragmetings die afgelope naweek.
Maar Monumentpark het lelik gestruikel.
D.F. Malan se veel swaarder agttal het HS Bellville behoorlik vasgevat en het met ’n oormaat balbesit met 20-5 ge-seëvier, terwyl Stellenberg danksy uitstekende samespel HS Durbanville laat sukkel het om al die gate toe te stop. Die gevolg was ’n oorwinning van 36-7 vir die Stellies. Monumentpark is in sy interskole-botsing teen Vredenburg gekelder met ’n telling van 5-28.
Die spanne van Brackenfell, HS Tygerberg en De Kuilen, wat die komende naweek in interskole-wedstryde betrokke sal wees, het al drie wegholoorwinnings in hul jongste wedstryde behaal.
Die Brakke het Parel Vallei met 50-0 op sy neus laat kyk, Tygerberg het 19 drieë teen Elsiesrivier ingeryg vir ’n sege van 125-0 en De Kuilen het Bergvliet met 61-0 afgeransel.
Ook aan die wenkant was HTS Bellville (29-15 t Labori), Tygerberg-klub (19-12 t Malibu), Fairmont (27-14 t Edgemead), The Settlers (49-10 t Groote Schuur) en Fairbairn (38-33 t President). Parow het egter met 10-43 teen Vishoek verloor.
Die vernaamste o.19A-wedstryde die komende naweek is: Brackenfell t HS Tygerberg, Worcester Gimnasium t De Kuilen, D.F. Malan t Khayelitsha/Nyanga, Monumentpark t The Settlers, Vishoek t Milnerton, Westerford t Fairmont.