Die droom van wyle Philip Abrahams, voormalige president van Noordelikes-rugbyklub in Avonwood in Elsiesrivier, is Saterdag 23 Januarie verwesenlik toe die bestuur van die klub hul kleurbaadjies en dasse ontvang het.
“Die jaar voor sy afsterwe het Mr A, soos hy alombekend was, ná ’n klubwedstryd op Avonwoodpark na my toe gekom en gesê dat die bestuur darem baie bont aangetrek veld toe kom en dat ons as klub moet aansoek doen by die SA Nasionale Lotery-fonds vir geld sodat ons almal ’n advertensie vir die klub kan wees. Vandag word die baadjies en dasse oorhandig en hy is nie hier om sy droom verwesenlik te sien nie,” sê Abraham Fredericks, president van die klub.
Die klubspelers sal ook almal baat vind by die skenking, want elkeen sal ’n oortrektrui, langbroek, hemp, rugbybroekie en ander toerusting in ’n rugbysak ontvang. Die oorhandiging aan die spelers sal later gedoen word wanneer klubrugby hervat word.
By dieselfde geleentheid het Adonis (Kiepie) Cupido ook amptelik by die klub aangesluit en sy kleure ontvang.
“Ek vier vanjaar my 50ste jaar in rugby en was voorheen verbonde aan die Tygerberg-rugbyklub. My eerste tree op die rugbyveld het ek in 1969 as 16-jarige vir die Tigers se o.135 pond (60 kg)-span gegee. Op 18-jaar het ek vir die seniors in die derde span begin en het ook die junior voorsitter en hulpafrigter van wyle Corra Joachims geword,” sê Cupido.
Hy het op 19 sy debuut in die eerstespan gemaak en het saam met spelers soos Chris Joachims, Jannie Sternberg, John Mitchell, Bennie Parring, Ben van der Kolf, Peter Jooste en David Ligwa vir Tigers gespeel.
“In 1973 het die klub besluit om by die nuutgestigte Tygerberg-rugbyunie aan te sluit en onder die vaandel van die voormalige SA Rugbyunie te speel. Die klub het toe ook besluit om ’n junior liga te begin en ek het die eerste voorsitter en afrigter van die o.19-span geword.
“Later is ek gekies as die afrigter van die senior span en spelers wat ek afgerig het, sluit in Jooste, Julian Smith, John Visagie, Gerald Fortuin, Abraham Jooste, Vivian Davids, Abraham Cloete, Costa Theys, Stanley Raubenheimer, John en Magedien Arendse, Sidney Langenhoven en Cupido Manuel. Ek was ook bevoorreg om as voorsitter van die Tygerberg-sportbeheerraad saam te werk met mense soos wyle oom Hansie Christians, George en Nico van Oordt, James Appollis, Chris van der Linde en Klaas Dirks,” sê hy.
Hy het ook op provinsiale vlak as skeidsregter opgetree nadat hy besluit het om die fluitjie op te neem.
“Ek was ook ’n keurder van die Tygerberg-rugbyunie en was die bestuurder van die Tygerberg-rugbyspan in die SA Bekerwedstryde teen die Boland en Griekwas. Ná eenwording in 1992 het ek nog vir drie jaar die fluitjie hanteer en toe my fluitjie opgehang. Ek het in daardie stadium besluit dat ek genoeg van rugby gehad het en wou my kennis met die gemeenskap deel. Die 50 jaar-diens aan rugby kan net toegeskryf word aan die genade van God, want ek is nog gesond en kan as administrateur my kennis as afrigter en skeidsregter gebruik tot die voordeel van die gemeenskap,” sê Cupido.
Met die Covid-19-pandemie wat alle gemeenskapsport laat stop het, het Fredericks gesê dit was baie moeilik vir klubs om spelers en administrateurs gemotiveerd te hou.
“Ons het nie gedink dat daar geen rugby in 2020 gespeel sou word nie, en nou aan die begin van 2021 is alles nog in onsekerheid gedompel, maar die hoop beskaam nie. Intussen hou ons afrigters gereeld kontak met die spelers deur ’n WhatsApp-groep om seker te maak dat hulle nog oukei is. Ek moet erken dit is moeilik om nie persoonlik met die spelers kontak te maak nie, maar ons moet die Covid-19-protokol volg sodat almal veilig kan bly tot ons weer op die veld kan draf,” sê Fredericks.