SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Sport
Een van SA rugby se grotes ter ruste gelê

Nie almal kan sê dat hulle deel was van geskiedkundige gebeurtenisse in Suid-Afrikaanse rugby nie, maar Piet Boonzaaier (67), voormalige Proteas-slot van Kuilsrivier, was een van agt bruin rugbyspelers wat in 1977 aan gemengde Springbokproewe op Loftus Versfeld deelgeneem het.

Hy is Saterdag 16 September uit die VGK SA Gestig in Belhar begrawe. Boonzaaier, ’n boorling van Franschhoek, het sy rugbyloopbaan by die klub Mountain Rocks begin – die einste klub wat deur sy pa, Rooidirk Boonzaaier, en sy oom, Rooijan Boonzaaier, gestig is. Hy het later by die rugbyklub Oaks van Stellenbosch en Distrikte, nou bekend as Coronations, aangesluit.

“Oaks was destyds een van die topklubs in Stellenbosch en Distrikte en Piet het Coronations vir baie jare in die Silwerbeker-kompetisie van die SA Rugbyfederasie verteenwoordig. Die drie gebeurtenisse waarin hy rugbygeskiedenis gemaak het, was dat hy in 1971 as 21-jarige lid was van die eerste bruin toerspan na Engeland onder Dougie Dyers; hy het in 1977 die eerste keer teen Maties op Coetzenburg in ’n klubwedstryd gespeel; en hy was een van agt Federasie-spelers wat aan die gemengde proewe op Loftus Versfeld deelgeneem het. Die ander spelers wat na die proewe genooi was, was ek, Errol Tobias, Turkey Shields, Hennie Shields, Hannes Meyer, Louis Paulse en Randy Marinus,” het Charles Williams, ’n spanmaat van Stellenbosch, gesê.

Van 1971 tot en met sy uittrede uit toetsrugby in 1978 het hy teen die SA Rugbyvereniging, alombekend as die Leopards, en teen die Britse Leeus van Willie-John McBride (1974), die Franse (1975) en Andy Leslie se All Blacks (1976) op die Goodwood-skougronde, nou Grandwest, uitgedraf.

“Vir hom was die toets teen die All Blacks een van sy hoogtepunte in sy rugbyloopbaan, want nie almal kry kans om teen die All Blacks te speel nie. In die span wat pak teen die All Blacks gekry het, was Jack Juries (kaptein), Marinus, Attie Lategan, John Stubbs, Eddie Gillion, John Noble, Turkey en Hennie en ek. Errol is op losskakel vervang deur Stubbs vir dié toets,” het Williams gesê. Hy was ’n getroue WP- en Springbokondersteuner, veral toe hy die kans kry om proewe te gaan speel om die Springbokspan van 1977 te haal. Ongelukkig het hy dit nie gemaak nie, maar net die feit dat hy kon deelneem, was vir hom genoeg. Ná eenwording in 1992 het hy Nieu-Seeland ondersteun weens die politiek in rugby toe alle Federasie-spelers uitgeskuif is en nêrens meer welkom was nie. Sy loopbaan is in 1978 afgesluit toe hy nie 1979 die Barbarianspan na Engeland gehaal het nie.

“Piet was ook kaptein van die WP-Federasie voordat Pompies Williams oorgeneem het. Hy was ’n lenige slot en sy lengte (1,8 m) het hom een van die beste slotte van die Federasie gemaak. Sy slotmaats was Vissie Williams, Schalk Burger en Louis Paulse in sy speeldae,” het Williams gesê.

Tot en met 1978 het die Proteas net uit bruin spelers bestaan, maar van 1979 tot die ontbinding van die Federasie is wit spelers ingebring om die span te versterk.

“Die rede waarom Piet sy stewels in 1978 opgehang het, was omdat hy moes kompeteer vir ’n plek in die span teen Hennie Bekker en De Villiers Visser, wat toe vir die WP uitgedraf en ook later Bokke geword het,” het hy gesê. Piet se afsterwe was vir Dougie Dyers (80), voormalige Springbokkeurder en adjunk-president van die WP, ’n groot verlies. Dyers was ook sy kaptein en later afrigter by die WP-Liga. “Dis vir my baie pynlik as spelers wat ek gementor het, afsterf en hulle is nog baie jonk. Ek is geweldig trots op die bydrae wat hulle gelewer het, waarvan die jeug van vandag die vrugte pluk en nie weet watter opofferings die Federasie-spelers in die apartheidsjare gemaak het nie,” het Dyers gesê.

Hy het ook genoem dat verteenwoordigers van die WP-unie en die SA Rugbyunie in hul afwesigheid by die begrafnis geskitter het.

“As jy in ag neem dat Piet op Nuweland gespeel het en sy naam in die rugby-annale van Suid-Afrikaanse rugby opgeteken is, is dit ’n klap in sy gesig dat hy nou nog nie erkenning kry vir wat hy gedoen het nie. Maar dis oukei, want niemand kan wegvat wat ons lank voor eenwording vermag het nie,” het Dyers gesê. “As speler was Piet vreesloos op die veld en het hy tot op die hoogste vlak gespeel. Hy was ook ’n gemeenskapsmens en het nooit vergeet waarvandaan hy kom nie. Die mense van Franschhoek kan getuig van sy oop hand wanneer hy kospakkies daar uitgedeel het.

“Hy het ook goeie dissipline gehad en was trots op wat hy was en wat hy deur sy rugby vermag het. Ander spanne het geweet wanneer Piet op die veld was, want buiten sy grootte, het hy ook geweet wat om met die bal te doen,” het Dyers gesê.

“Sy lojaliteit teenoor sy span – hetsy klub of provinsiale span, was een van sy uitstaande kenmerke. Hy het ook ander eerste gestel en as hy uit die span gelaat is, was hy nie ongelukkig daaroor nie, want hy het geweet die span kom eerste,” het Dyers gesê.

Hy het ook ná sy uittrede veral die jeug in Belhar, Bellville en Kuilsrivier aangespoor om hul skoolkwalifikasies te verbeter. “Jy moet weet Piet het maar net standerd 7 (vandag graad 9) geslaag toe hy uitgespring het om op die dokke te gaan werk.

“Hy het binne drie jaar sy matriek saam met sy vrou, Rosie, verwerf en ook verskeie diplomas in bestuur behaal – ’n bewys dat hy ernstig was oor geleerdheid.”

Hy laat buiten sy vrou ook twee kinders en kleinkinders agter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.