Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Historikus se dood ruk klub

Die rugbyklub Noordelikes in Avonwood, Elsiesrivier, is geruk deur die afsterwe van ’n administrateur en speler wat diep spore in Noordelikes en Suid-Afrikaanse rugby getrap het.

Paul Dobson, die bekende historikus en pa van John Dobson, afrigter van die Stormers, en Gerald “Skalla” Scholtz, skrumskakel, is die afgelope twee weke van afskeid geneem.

“Paul was eerstens ’n historikus en daarna ’n rugbygeesdriftige. Hy en Basil Bey van Bishops was instrumenteel in die eerste gemengde Cravenweekspan wat in 1981 aan die Cravenweek deelgeneem het toe vyf spelers van Bishops deel was van die WP-Liga se Cravenweekspan.

“Hy en Basil was albei onderwysers by Bishops en onder hul afrigting het Bishops groot hoogtes in sport bereik.

“Hy was ook ’n persoonlike vriend en sy rugbykennis en statistieke oor rugby in SA was ongekend en almal kon hom 24/7 bel as hulle enigiets oor rugby wou weet,” se Dougie Dyers, ere-president van Noordelikes en voormalige vise-president van die WP-Rugbyunie.

Volgens Dyers het Dobson ook ’n groot bydrae gemaak deur die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Rugbyfederasie te boek te stel.

“Ons het elke jaar gedurende die Junie-vakansie die Federasieweke by SAKK in Faure en by die vlootbasis in Saldanha gehou. Elke span moes ’n afrigter, bestuurder en skeidsregter saambring en dit was dan waar Dobson sy skeidsregterskennis met hulle gedeel het. Die skeidsregters is ingelig oor die nuwe wette en wat die implikasie vir elkeen op die rugbyveld beteken.

“Dis ook danksy hom dat die eerste bruin skeidsregters soos Dirk Jantjies en Piet Adams hul spore verdien het.

“Deur die jare het hy die WP-Liga ondersteun en is ook hoog aangeskryf deur Dok Danie Craven. Hy het getrou boek gehou van alle statistieke, spelers en administrateurs wat ’n rugbystewel aangetrek het. Hoewel John by Ikeys geswot het, het hy vir Noordelikes uitgedraf en ons was ook die eerste klub in die WP wat met ’n gemengde span aan die ligakompetisies deelgeneem het.

“Charles Williams, voormalige Junior Springbok en voorsitter van die rugbyklub Van der Stel-Evergreens, het sy rugbyloopbaan in 1984 by Noordelikes afgesluit en hy en Bey was die afrigters van die gemengde Cravenweekspan van 1981. As ek Paul moet opsom sou ek sê hy was ’n wandelende rugbykenner en hy het altyd vir almal tyd gehad, of jy nou met hom oor rugby of alledaagse goed wou praat en by die rugbypubliek van Noordelikes en die Federasie was hy baie gewild,” se Dyers.

Scholtz het sy rugbyloopbaan by Noordelikes as ’n junior begin toe wyle Basie Stoffels hom by sy huis in Avonwood gaan haal en rugbyveld toe gebring het.

“Stoffels en wyle Philip Abrahams was die juniors se afrigters by Noordelikes en baie van die spelers wat in die WP en SA naam gemaak het, het onder hul hande uitgekom. Gerald het deur al die ouderdomsgroepe by WP gekom en het WP-Gouebeker, WP-Liga en ook die SA Uitnodigingspan wat na Wallis en Engeland getoer het, gehaal. Toevallig was Charles en wyle Ian Kirkpatrick ook die afrigters van laasgenoemde span. Sy laaste wedstryd het hy op Floridapark in die Legends-toernooi gespeel en die telling het nie saak gemaak nie, vir al die bekendes het dit meer gegaan om ou rugbybande te hernu en net om gesellig saam te verkeer,” het Dyers gese.

Losskakels saam met wie Scholtz gespeel het, was spelers soos Jerome Muller, Patrick Petersen en Chelton April.

“Elke keer as daar ’n speler of administrateur of rugbyvriend van my sterf, sterf ’n stukkie van my hart, maar dis nie vir my om die Meester se weë te bevraagteken nie, ons almal moet daardie afspraak een of ander tyd nakom. Ek wens die Dobsons en Scholtze sterkte toe in hul tyd van beproewing,” het Dyers gese.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.