Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Maws onthou Leeus-toer

Nie alle rugbyspelers kan sê dat hulle teen Willie-John McBride se Britse Leeus van 1974 gespeel het nie, maar Ralph Mawson (75) van Riverton-landgoed in Elsiesrivier is een van drie van die voorspelers van die SA Federasiespan, of algemeen bekend as die Proteas, wat op 4 Junie 1974 dié eer gehad het.

Die wedstryd is op die Goodwood-skouterrein, waar GrandWest nou is, gespeel en ondersteuners van die Proteas het van heinde en ver gereis om die wedstryd by te woon.

Die Leeus het skoonskip op die toer gemaak en die Proteas met 36-6 geklop.

Mawson se ander twee spanmaats wat nog duskant die graf is, en in die pak gesak het, is die twee voormalige Protea-kapteins Dougie Dyers van Belhar en Jack Juries van Groot-Brakrivier.

“Voor die Proteas gekies kon word vir die geskiedkundige wedstryd, is proewe by SAKK in Faure gehou. Ons was drie spelers van Blue Birds-rugbyklub wat gekies is en die ander twee was Tommy Petersen en Clive Adams. Die SAKK-rugbyveld was omring met weermagtente wat as kleedkamers gedien het en ek is as die kaptein en agtsteman van die George Leith-span aangewys.

“Al wat ek in my spanpraatjie gesê het, was dat elkeen ’n kans het om die Proteas te haal, maar dat ek verwag elkeen sou net sy beste gee,” sê Mawson.

In die tweede wedstryd het hy teen Juries gespeel en omdat hulle al drie keer teen mekaar in die Silwerbekerkompetisie – Blue Birds teen Goodhopes van Groot-Brakrivier – gespeel het, het hy geweet wat Juries na ’n span bring. Hy het in die tweede wedstryd drie drieë gedruk en die keurders het hom van die veld gehaal en wou weet of hy al flank gespeel het.

“Flank was nie ’n onbekende posisie nie, maar ek het vir my klub agtsteman gespeel en as die keurders my nou op flank wou inspan, het ek daar ook 100% gegee. Na afloop van die tweede wedstryd is ek en Juries albei gesê dat ons deelname verby is, maar dat ons moet wag tot die span aangekondig word. Nadat die keurders koppe bymekaar gesit het in die offisiere-menasie in die basis, het Hennieboy Langenhoven, wedstrydsekretaris van die WP-Unie, langs my kom staan en my geluk gewens, want ek, Charlie Davids en Hannes Meyers was die nuwelinge in die Proteas.

“Ons moes toe twee weke verlof neem by ons werk om die oefenkamp by te woon ter voorbereiding vir die wedstryd. Toe ons by die kamp aanmeld, is ons verwelkom deur Springbokke soos Morne du Plessis, Chris en Agie Koch. Laasgenoemdes sou help met die fiksheid van die spelers. Dit was hel, want ons het met houtpale deur die bosse in die basis gehardloop oor die sandduine, waar Khayelitsha nou is, en dan as ons terug is in die basis, kontakoefeninge met motorbande gedoen. Ons het ook een dag die Maties se oefenkamp, Koedoekamp, onder bevel van Dok Danie Craven en sy hond, Bliksem, bygewoon, waar ’n deel van die veld natgespuit word en jy dan teen ’n trekker moes skrum, want daar was nog nie skrummasjiene nie. Die doel van die skrummery teen die trekker was om te kyk hoe sterk jy is.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.