Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Sport
Nóg ’n Bok uit K’fontein

As jy gedink het Kraaifontein het op die oomblik net een Springbok-rugbyspeler, maak jy ’n groot fout.

Hoewel Cheslin Kolbe die naam op almal se lippe is, is daar nog iemand wat onder die radar naam maak as ’n nasionale rugbyspeler. Felicia Jacobs het pas teruggekeer uit Europa waar sy deel was van die vroue se Springbokspan, wat teen Brittanje se weermagspan en teen Italië, Wallis en Spanje se nasionale spanne gespeel het.

Die Bokke het drie uit vier van hul wedstryde op toer verloor, maar Jacobs sê sy is tevrede dat hulle baie geleer het. “Ek is bly ons kon darem een wen, maar ons het baie geleer. Dit was ook die eerste volledige toer in jare,” sê Jacobs, wat skrumskakel speel.

Hoe het dit gebeur dat hierdie jong vrou in rugby begin belangstel het? “Aanvanklik was ek net ’n atleet, maar het altyd saam met die seuns in die straat raakrugby gespeel.

“Daar in die straat het ek op die spel verlief geraak en daarvan begin droom om vir die Springbokke te speel. Die droom het vroeër waar geword as wat ek gedink het, toe ek uit die o.20-span opgeroep is om vir die nasionale span te speel,” sê Jacobs.

Op die ouderdom van 20 het sy reeds meer vermag as wat sy ooit sou kon droom en nou hoop sy vrouerugby in Suid-Afrika gaan binnekort professioneel word.

“Daar is nou sprake dat ons dalk teen die volgende Wêreldbeker-toernooi in 2021 ’n volledige professionele span kan wees. Ek hoop ook dat vrouerugby meer blootstelling kry. Ons wedstryde word amper nooit op televisie uitgesaai nie en as meer meisies die sport op televisie sien, is ek seker hulle sal daarin belangstel,” sê Jacobs.

Peter Links, skoolhoof van die Hoërskool Scottsdene, waar Jacobs ’n leerder was, sê hy en die leerders bars van trots oor hul eie Springbok.

“Felicia, of Gita soos ons almal haar noem, was altyd briljant in atletiek omdat sy so vinnig is. Toe sy egter in graad 9 begin rugby speel het, het sy elke keer die ouderdom-spanne van die Westelike Provinsie gehaal en ons het geweet dit is net ’n kwessie van tyd voor sy nasionale kleure gaan kry.

“My droom is dat die leerders van die skool sal opkyk na haar en self daarvan droom om eendag uit te blink in dit wat hulle nastreef,” sê Links.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.