Fokofpolisiekar het geroep en hul aanhangers het geantwoord.
Dié orkes het in Maart via ’n Thundafund-skarefinansieringsveldtog binne net nege dae hul droomteiken van R500 000 oorskry om hul eerste vollengte-album in 11 jaar te maak.
Dit het egter nie hul aanhangers gekeer om aan te hou gee nie. Om hul dankbaarheid te toon, het die Fokof-manne ’n gratis vertoning in Kaapstad belowe as hulle die R700 000-kerf haal.
Dit was ’n belofte om aanhangers aan te moedig om meer van die nuwe album vooraf te bestel, aangesien daar slegs 450 albums teen 31 Maart bestel is. Tot op hede is 725 albums bestel.
Die R700 000-mikpunt is op 20 April bereik met nog 30 dae van hierdie finansieringsveldtog oor.
Daarom is Fokofpolisiekar verheug om aan te kondig dat die gratis konsert op Donderdag 25 Mei by Mercury Live in Kaapstad gehou sal word.
Die deure maak om 19:00 oop en werk op ’n eerste-kom-eerste-bedien-basis, omdat die klub nie meer as 400 mense kan toelaat nie. Die optrede sal teen 21:00 afskop.
Intussen is die orkes hard aan die werk in die ateljee om dié album af te rond.
Die groep kom gemiddeld drie dae per week bymekaar om aan die album van 10 snitte te slyp. Aanhangers kan hulle op Facebook volg vir gereelde direkte webuitsendings en so insae in hul skryfproses kry.
In hierdie stadium is die album geskeduleer om op 3 Oktober vrygestel te word.
Dié wat ’n digitale weergawe van die album vooraf bestel, sal dit in September ontvang. Besoek die groep se webwerf by fokofpolisiekar.co.za of hul Facebookblad by facebook.com/fokofpolisiekarband vir meer inligting.