Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Jong Kapenaar word oornag ’n musiekster

’n Jong Kapenaar se lewe het heeltemal verander toe hy tydens ’n radio-onderhoud ’n platekontrak aangebied is.

Elandré Schwartz het in Oktober laas jaar nuus begin maak toe een van sy musiekvideo’s oornag 15 000 keer gekyk is.

In die eenvoudige video, wat nou al meer as 750 000 keer gekyk is, sing Elandré Bruce Springsteen se “Tougher than the Rest”.

Dit was genoeg om ’n indruk op die Bok Radio-span te maak en voor hy sy oë kon uitvee, is hy ateljee toe genooi vir ’n onderhoud waar Select-musiek sommer op die lug vir hom ’n platekontrak aangebied het.

Dis ook waar hy uitgevind het dat hy by vanjaar se Bakgat Country Opskop gaan optree. Elandré gaan op Sondag 4 Junie die Grand Arena-verhoog met Country-legendes soos Tommy Dell, Lance James, Matt Hurter en Dennis East, asook sterre soos Steve Hofmeyr, Elizma Theron, Ricus Nel, Manie Jackson, Leah, Pieter Mohr en Die Broers deel. Hy sê hy weet nie waar om te begin praat oor die konsert nie. Vir hom is dit ’n kans om die verhoog te deel met sangers oor wie sy familie nog altyd versot is.

Elandré se lewe het baie besig geword ná sy Bok Radio-onderhoud. Hy’t al op televisie verskyn, op die Bok Radio-bootreis opgetree en was by die KKNK met nege optredes in vyf dae. “Ek het myself bevind tussen die grootste kunstenaars in die bedryf. Ek was op heilige grond.” Tussen sy optredes deur werk Elandré aan sy debuutalbum, wat in Julie die lig gaan sien. Hoewel die naam nog ’n geheim is, kan aanhangers “’n opsomming van 21 jaar se verhouding met kuns” verwag. Elandré vertel dat hy net ’n kwart van ’n “briljante” kreatiewe span agter die album is. Die ander drie lede is die vervaardiger, Dirk van Niekerk, sy “getroue digter” Jo-Mari Malan, en sy oom, Henry Warden.

Hy vertel ook dat die liedjies vir dié projek nog altyd daar was.

“Lank voor mense my naam geken het, het ek al geslyp aan hierdie plaat. Die album is in die spasie tussen nostalgie en vooruitgang. Dit is rou en eerlik.”

Elandré beskryf sy musiek as ’n mengsel van Bruce Springsteen, Johnny Cash en Johannes Kerkorrel. Buiten sy optrede by vanjaar se Bakgat Country Opskop, waar hy en Leah hulde aan Johnny Cash en June Carter gaan bring, sien hy ook uit om by die Krone-konsert in Johannesburg op te tree.

Die Bakgat Country Opskop op Sondag 4 Junie in GrandWest se Grand-Arena begin om 15:00 en beloof om die hele gesin te vermaak.

Kaartjies kos tussen R170 en R225 by Computicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.