Een van Suid-Afrika se grootste legendes, Min Shaw, vier haar 50ste jaar in die vermaaklikheidsbedryf.
Sedert haar eerste opname in 1966 en haar eerste filmrol in 1967 het Min Shaw Suid- Afrika se liefling geword.
Met drie Sarie-toekennings, platinum-plaattoekennings, ATKV-toekennings en Huisgenoot-Skouspel-toekennings, bly sy vandag nog een van die gewildste Afrikaanse legendes. Sy het in haar loopbaan in vier rolprente en ’n TV-reeks gespeel. Sy het ook ’n kinderprogram op TV aangebied.
Shaw is vanjaar vir die president se Ikhamanga-toekenning benoem vir haar lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek en ’n roos is ook vanjaar na haar vernoem.
Op 82-jarige ouderdom is sy nog steeds bedrywig en gaan sy haar lojale Kaapse aanhangers verras met twee optredes by Die Boer-teaterrestaurant in Durbanville.
Dít sal plaasvind op Saterdag 20 Mei vanaf 20:30 en Sondag 21 Mei vanaf 13:30. Vriende wat saam met Shaw gaan optree, sluit Lance James, Shaun en Tommy Dell in.
’n Span van kykNet se Bravo!-program sal die Kaapse vertonings opneem vir uitsending, dus gaan mense wat die vertoning bywoon, dalk die kans hê om op TV te verskyn.
Kaartjies kan direk bespreek word by www.dieboer.com.Wen! Wen! Wen!
Tien gelukkige TygerBurger-lesers kan elkeen ’n dubbelkaartjie na een van die vertonings wen. Al wat jy moet doen, is om jou naam en van, jou woonbuurt en e-posadres te SMS na 45527 voor Dinsdag 9 Mei om 12:00. Jou SMS moet begin met die woord Minshaw. Elke SMS kos R1,50.