’n Babbelkous-ontvangsdame, ’n grootbek-papegaai, ’n krapperige speurder met ’n verkoue, skelmpies wat verdwyn, ’n teateragentskap en baie humor.
Dít is van die bestanddele van Koos Roets se wenresep vir sy nuwe film, Hoener met die rooi skoene.
Die bekroonde skrywer, regisseur en vervaardiger, vertel dat die rolprent “’n riller-komedie met onverwagse kinkels in ’n ewe vreemde kabel” is, maar volgens Durbanville se Geon Nel, wat die fliek se sjarmante Percy Celliers speel, is die film iets heeltemal nuut vir die Afrikaanse mark.
“Dit herinner my baie aan die ou Pink Panther-speurverhale.”
Geon vertel dat die storie in Hoener met die rooi skoene rondom ’n bekende speurder draai. Kaptein Hendrik Greyling (gespeel deur Louw Venter), ook bekend as Hoender, moet ’n moord by die De Waal-teateragentskap oplos.
Die legendariese Lizz Mering vertolk die rol van die ontvangsdame, wat dinge vir die speurder baie moeilik maak.
Intussen is daar allerhande karakters wat almal verdagtes in die saak word. Een van hulle is Percy Cilliers, wat sy baas se jonger vrou se skelmpie probeer afpers.
“Daar is ook ’n storie agter die naam van die film, maar ek wil nie weggee waar dit vandaan kom nie. Mense moet maar self gaan kyk wat dit beteken,” vertel Geon.
Percy is die teateragentskap se nuwe klerk wat nie altyd sy werk so goed doen nie. Dit lei natuurlik daartoe dat hy nie met sy baas oor die weg kom nie.
“Hy is ’n baie selfversekerde persoon wat baie van sport en meisies hou,” sê Geon oor sy karakter. “Hy is met tye selfs so bietjie windgat.”
Dié is nie Geon se eerste rol as sportliefhebber nie. In 2013 het hy en sy mede-akteurs as ’n geselskap die beste akteur-toekenning by die KKNK en ’n Naledi-toekenning vir hul vertolking van ’n rugbyspan in Balbesit gewen.
Wanneer hy nie as akteur verskyn nie, spandeer Geon tyd met sy eerste liefde: kulkuns.
Hy het sy vaardighede as ’n towenaar in Londen vir twee jaar geslyp voordat hy drama by US studeer het. Ongeveer 10 jaar later het hy sy eerste kulkuns-produksie, Die goëlaar, by die US se Woordfees aangebied.
Verlede jaar het hy nog twee vertonings, Nagwandelaars en Targô, bekendgestel.
In Hoener met die rooi skoene, deel hy die silwerdoek met Lida Botha, Deon Lotz, Louw Venter en natuurlik Lizz Meiring. Die rolprent sluit ook die verskyning van gasspelers soos Anton Goosen, Leon Ecroignard, Soli Philander en Goitsemang Lehbyeword in. “Ek het nog nie so iets in Afrikaans gesien nie,” sê Geon van die film. “Dit sal jou op die punt van jou stoel hou, maar terselfdertyd laat skaterlag.”
Hoener met die rooi skoene is tans by Ster-Kinekor in Tygervallei, Bayside en CapeGate, asook by Nu Metro Canal Walk te sien. Besoek www.facebook.com/HoenerMovie vir meer inligting.