Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Pieter Mohr se nuwe album propvol treffers

Met ’n splinternuwe album propvol nuwe treffers sien Pieter Mohr daarna uit om by die “country-vertoning van die jaar” op te tree.

Die Kaapse sanger sal sy tweede verskyning vanjaar by die Bakgat Country Opskop maak, waar hy die verhoog saam met legendes soos Tommy Dell, Lance James, Matt Hurter en Dennis East, asook Steve Hofmeyr, Elizma Theron, Ricus Nel, Manie Jackson, Leah, Die Broers, Angel en die nuweling Elandré Schwartz gaan deel.

Pieter vertel: “Duisende mense kom van oral om hierdie spesiale vertoning propvol country-musiek by te woon.” Die genre, wat deesdae baie aanhangers het, het Pieter “gekies” toe hy musiek begin maak het. Toe hy eers begin het, was daar nie veel country-aanhangers nie en dus het hy sommer ’n klomp verskillende style gesing, ten spyte van sy eie persoonlike passie vir country.

Dinge het verander toe God vir hom ’n “teken” gegee het. “Ek het die Here gevra om my ’n teken te gee of ek moet fokus op country, want dit is wat my hart wou doen.”

Toe hy eendag by ’n fees optree, wou hy skielik nét sy country-backtracks speel, en net daar was die saak afgehandel. “Ek doen vir die laaste agt jaar nét country-musiek by optredes landwyd.”

Maar hy sing nie noodwendig die soort country-musiek wat luisteraars dalk ken nie. “Baie mense beskou country-musiek as vervelig en tranetrekkerig, maar met my moderne twist probeer ek almal wys dat country-musiek cool vir oud en jonk is, en dat jy lekker daarop kan kuier en dans.”

Sy optredes is ook baie meer lewendig as wat mense dalk sou verwag. “Ek probeer almal betrokke maak by optredes en by elke liedjie.” Pieter het twee maande gelede sy nuwe album, Welkom in my wêreld, bekendgestel. Die album, wat deur Dennis East vervaardig is, spog met oorspronklike Afrikaanse liedjies, asook Pieter se weergawes van ’n paar ou country-gunstelinge. “Ons het ’n hele paar maande aan hierdie album gewerk en elke liedjie is noukeurig gekies.”

Welkom in my wêreld bevat ook oorspronklike liedjies wat deur Pieter en sy vrou geskryf is. “Die volgende enkelsnit wat bekendgestel gaan word, is deur Tony Ridgeway van Rocking Horse geskryf.”

Ook op die album te hoor is ’n duet met nog ’n country-legende, Bobby Angel, asook een met Pieter se vriend, Manie Jackson.

Sy duet met die Kaapse sanger Dee Dee is al vir drie weke in die nommer een-posisie op een van die gewildste Vaaldriehoekse radiostasies se country-trefferparade.

Pieter se fokus vir 2017 is om sy nuwe album aan die publiek voor te stel. Hy gaan sy enkelsnitte na radiostasies toe stuur, ’n paar nuwe musiekvideo’s skep en toer na soveel dorpe as moontlik. “Tot dusver is daar heelwat toere landwyd beplan vir die volgende paar maande, waarna ek baie uitsien.”

Maar vir eers sal hy op Sondag 4 Junie vanaf 15:00 in die GrandWest se Grand-arena in die Bakgat Country Opskop te sien wees.

Kontak Christo Booyens by 021 981 5010 of 082 895 5093 of christo@bakgatpromosies.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.