Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vermaak
Ricus gaan sy hartsmusiek by Opskop sing

Die sanger Ricus Nel gaan weer ’n kans kry om sy hartsmusiek te sing wanneer hy op Saterdag 4 Junie by die Bakgat Country Opskop optree.

Ricus sê aanhangers kan sy liefde vir country-musiek in al sy oorspronklike musiek hoor, en by die Bakgat Country Opskop sal hy die geleentheid kry om die verhoog met plaaslike country-legendes soos Tommy Dell, Lance James, Matt Hurter en Dennis East te deel. “Dit gaan weer ’n hoogtepunt wees daai,” sê hy met trots.

Daar gaan heelwat ander sterre ook by die konsert wees, soos Elizma Theron, Manie Jackson, Leah, Pieter Mohr, Die Broers, die nuweling Elandré Schwartz en Steve Hofmeyr, met wie Ricus ’n duet gaan sing.

“Ek en Steve doen een van Don Williams se liedjies, ‘Gypsy Woman’, saam.”

Ricus het letterlik met musiek grootgeword. Hy was vier toe hy dromme begin speel het en was net ses jaar oud toe hy vir die eerste keer saam met sy pa se orkes opgetree het. Toe hy die musiekwêreld betree, was dit eers as ’n instrumentalis. Daar was altyd baie musiekinstrumente in en om die huis en Ricus vertel dat hy dit self leer speel het. Vandag is hy die meester van 13 verskillende instrumente, maar die twee wat naaste aan sy hart lê, is die pedaal-staalkitaar en die konsertina. “Ek hou van die rou en eerlike klank van die instrumente. Dit praat met my hart.” Ricus is ook ’n fantastiese sanger.

Sy nuutse album, Ouskool-Boerseun, is in Junie 2016 bekendgestel en het binne twee maande goue status behaal. Hy is ook vir ’n Sama-toekenning in die beste kontemporêre album-kategorie genomineer. Ricus sê die nominasie is vir hom ’n “enorme” voorreg.

“’n Mens maak seker nie musiek om toekenings te ontvang nie, maar dit is lekker om raakgesien te word.”

Hy beskryf Ouskool-Boerseun as ’n eerlike album wat vir aanhangers ’n beter idee gee van wie hy is. “Die album gaan baie oor myself, my kinderjare, my ouers, my grootwordjare en dinge wat my na aan die hart lê soos die bosveld en ’n hardekoolvuur.”

Die liedjie “Hardekole” is een van die grootste treffers op die album en Ricus sê dis beslis een van die hoogtepunte van sy loopbaan. Die liedjie gaan oor hoe lekker dit is om rondom ’n vuur te sit en gesels en is saam met mede-sterre Adam Tas, Bok van Blerk en Refentse opgeneem. Die musiekvideo vir “Hardekole” is al meer as een miljoen keer op YouTube gekyk.

Hoewel hy nog die sukses van Ouskool-Boerseun geniet, sal aanhangers nie te lank moet wag vir nuwe materiaal nie. Ricus beplan om einde Oktober nuwe musiek vry te stel. Intussen kan musiekliefhebbers sy optrede by die Bakgat Country Opskop geniet.

Ricus sal van sy treffers, soos “Hardekole”, asook country-gunstellinge soos “Some broken hearts never mend” by die konsert sing. Country-liefhebbers sal ook vanjaar die konsertervaring huis toe kan neem met die Bakgat Country Opskop-album.

Die CD bevat liedjies van al die kunstenare wat optree en sal by die konsert te koop wees. Die konsert vind op Saterdag 4 Junie in die GrandWest se Grand-arena plaas. Dit begin om 15:00. Kaartjies kos tussen R170 en R225 en is by Computicket beskikbaar.

TygerBurger het 20 dubbelkaartjies vir die Country Opskop beskikbaar vir gelukkgie lesers. SMS “Country” na 34586 (R1,50 per SMS).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.