Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Tygerburger
Bastion-vier dra trots WP-truie
bastion
Vier kranige rugbyspelers van die Laerskool Bastion, wat van graad een af al vir dieselfde span uitdraf, het onlangs geskiedenis gemaak toe al vier vir die WP se o.12A-span gekies is.

Om alles te kroon het dié span die interprovinsiale o.12-toernooi gewen wat op 28 en 29 September by die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdale plaasgevind het.

Dis die eerste keer in die skool se geskiedenis dat dié eer hulle te beurt val.

Dit moet iets in die water wees waar David Simon, Liam Burger, Myburgh Louw en Keanu Bekker in ’n radius van ’n kilometer van mekaar af bly in Brackenfell, want dié vier 12-jariges speel kookwater-rugby.

Hulle kan nog hul heel eerste wedstryd as onder sewes goed onthou.
Dit was teen die Laerskool Panorama en hulle het oortuigend gewen. Dit was die begin van ’n rugbyvriendskap wat steeds sterk staan.
Elke rugbyseisoen, as die spanne aangekondig word, bevind dié vier hulself weer in dieselfde span.

David speel binnesenter vir Bastion se eerste span, Keanu flank, Myburgh buitesenter en Liam vasskopstut.

Maar dit was ’n heel ander storie toe hulle vir die provinsiale span gekies is. Hulle is uit hul gemaksones gehaal en moes blitsvinnig aanpas in nuwe posisies.

“Dit was baie moeiliker as om rugby vir die skool te speel,” vertel Liam. Hulle het hul nuwe spanmaats, wat van skole oor die Wes-Kaap heen kom, agt weke voor die interprovinsiale toernooi ontmoet en slegs 32 ure saamgeoefen voor hul eerste wedstryd.

“By die interprovinsiale toernooi is álmal vinnig en sterk en dis nogal moeilik om op hul level te bly,” sê Myburgh, wat droom van ’n professionele rugbyloopbaan ná skool.
Dat dit ’n eer was om vir die provinsiale span uit te draf, is duidelik.
“Ek het elke keer trane in my oë gekry as ons op die veld draf met ons WP-truie,” sê Keanu.

David voeg by: “Ek is baie trots oor hoe ver ons gekom het.”

Die wedstryd wat hulle nog lank sal onthou, was die eindstryd toe hulle Boland met 26-3 geklop het.
“Dit was ’n ongelooflike gevoel,” sê Liam.
Dit was ook spesiaal vir hul afrigter, Dennis Puchert, wat 20 jaar gelede self as o.12-speler op dié veld gespeel het.
Hoewel al vier eendag graag professioneel sal wil rugby speel, is hulle wys genoeg om te besef baie kan verander in ses jaar.

Myburgh se “Plan B” is om sy eie sakeonderneming te begin. Liam wil ’n argitek word, Keanu ’n prokureur en David “wil musiek maak en dalk ’n jazz-klub besit”.

Hulle is al vier akademies sterk, maar as ’n mens so luister, sal rugby altyd seëvier.
David se gunstelingspelers is Shaun Johnson en Cheslyn Kolbe.
Keanu se held is Malcolm Marx en Liam s’n Duane Vermeulen. Myburgh sê weer die legendariese senter Danie Gerber is sy gunsteling.

Met slegs nog ’n jaar oor op laerskool, is die kanse goed dat die seuns se paaie in 2020 sal skei wanneer hul hoërskool toe gaan.

Terwyl Myburgh mik vir Paul Roos of Paarl Gimnasium, wil Liam Hoër Landbouskool Boland toe gaan terwyl Keanu wik en weeg tussen Paul Roos en Hoër Landbouskool Boland. David wil graag sy hoërskooldae by Wynberg Boys High of Hoër Jongenskool Paarl deurbring.
Wie weet, dalk kruis hul paadjies tog weer eendag wanneer hulle as professionele spelers vir dieselfde span uitdraf.
Bastion kan voorwaar trots wees!
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak TygerBurger Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.