Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
UD-Express
Antieke kunsvorm wat liefde uitbeeld

OM kralejuwele om jou nek of arm te dra, is baie meer betekenisvol as wat die meeste mense besef. Die simboliek van ’n juweelstuk is veel meer as net die mooi wat jy sien.

Annelize Els in haar kralekamer waar sy haar kralekuns uitleef. Foto’s:HEILIE COMBRINCK

Annelize Els van Uitenhage, ’n kralekunstenaar, fotograaf en skilder wat die antieke kuns bemeester het om pêrels in ’n snoer te ryg, praat van die betekeniswaarde van juwele en noem krale in besonder.

Annelize, een van die weiniges in die Oos-Kaap wat pêrelsnoere oorryg, sê pêrels is vir haar baie spesiaal en sy beskou dit as ’n liefdesjuweel van God.

“Dit is ’n besondere juweel met soveel simboliek oor die liefde. Ek dink nie mense besef aldag die emosionele waarde daarvan om pêrel- snoere te dra nie. Wanneer ek pêrels ryg, is die knoop tussen elke twee pêrels vir my soos ’n knoop van God om die liefde tussen mekaar te verbind.”

’n Baie dun naald moet gebruik word om die spesiale katoentou deur die pêrels te ryg.

“Tussen elke pêrel word ’n klein knopie in die tou gemaak sodat die pêrels kan asemhaal en nie teen mekaar skaaf nie. Die belangrikste rede vir die knoop is om te verhoed dat jy nie al jou kosbare pêrels in die snoer verloor nie indien die toutjie breek.”

Emosionele waarde van kraaljuwele

Wanneer jy krale om jou nek of arm dra, moet dit vir jou van waarde wees, dit moet iets vir jou beteken. Buiten dat dit vir jou mooi en lekker is om dit te dra, herinner dit jou gewoonlik aan die persoon wat dit vir jou gegee het, of aan ’n besondere plek waar jy dit gekoop het.

“Mense erf soms kosbare halssnoere, kry dit as ’n geskenk, of het dit oorsee gekoop en dra dit nie want hulle sê dit pas nie by hul styl nie. Ek ryg sulke halssnoere oor sodat dit by jou persoonlikheid en styl pas.

“Dit is tog so lekker en spesiaal om ’n juweelstuk te dra wat jy by jou geliefde ouma, ma of iemand spesiaal gekry het.” Sy werk met edelgesteentes, halfedelgesteentes, krale, skulpe en knope. Sy doen ook kralehekelwerk, ‘n kunsvorm waar die kleinste krale-tjies een-vir-een ineen gehekel word en die eindresultaat ‘n allerpragtige juweelstuk is.

Annelize vertel van ’n kliënt wat haar kosbare pêrel-trouhalssnoer in twee armbande laat oorryg het om een vir elk van haar twee dogters te gee. Omdat die dogters se persoonlikhede uiteenlopend is, moes Annelize dié pêrels só ryg dat dit onderskeidelik by elke dogter pas.

“Weereens is dit vir my so simbolies van die lewe. Dis dieselfde krale, maar deur dit met ander kunskrale te kombineer, het dit nou ’n eiesoortige waarde vir elkeen van die dogters. Ons is nie almal dieselfde nie, so omarm mekaar se andersheid.”

Juwele verklap jou persoonlikheid

Annelize het ’n fyn aanvoeling en ’n skerp waarnemingsvermoë.

“Ek let op na wat mense dra, hul manier van interaksie en kan daarvolgens juwele maak wat by hul persoonlikhede pas. Ek is mal daaroor en geniet dit baie om iets mooi vir ander te maak.

“Die heel lekkerste is om te sien dat die mense self mal is oor ’n halssnoer of armband wat ek gemaak het.

“Dit verskaf my soveel genot om dit te doen, want ek wil mense bly maak met ’n mooiding wat lewenslank vreugde bring.”

Kralekuns en motiveringsessies

Annelize sê dit is baie terapeuties om met die krale te werk en juwele te maak of om snoere oor te ryg.

“Dit bring vir my ‘n diep stilte in my gemoed, want jy sien in jou hande hoe ’n paar los krale al mooier word soos jy dit inryg. In elke juweelstuk ryg ek ’n stukkie van my eie menswees in en dit voel of ek ’n ander seën met my kralekunswerk.”

Annelize bied kralekuns-klasse vir individue of groepe aan en kombineer dit gewoonlik met motiveringssessies oor die lewenskuns. Dit is dan wanneer sy ook die simboliek toepas om jou lewe soos ’n pêrel - ten spyte van terugslae en pyn - te laat ontwikkel in ’n sieraad.

“Lééf positief en geïnspireerd. En dra die mooi en goeie van die lewe op jou hals,” sê Annelize.

  • Vir meer inligting oor kralekuns of kralekunsklasse bel Annelize Els by 073 500 2153.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak UD Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.