Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
UD-Express
Bergsig se visionêre denker én doener tree af
Deon Wolmarans, Bergsig Skool se hoof tree einde September af. Foto:HEILIE COMBRINCK

Veertig jaar en nege maande gelede het Deon Wolmarans, skoolhoof van Bergsig Skool, in dié skool op Uitenhage se tegniese werkswinkels as tydelike onderwyser ingestap. Op Woensdag, 30 September, stap hy as afgetredene uit.

“Ek het goeie jare beleef en met baie genade van Bo was ek bevoorreg om hier by Bergsig my onderwysloopbaan te kon begin, asook om dit hier te voltooi,” sê hy.

Wolmarans is passievol oor Bergsig en die goeie gees wat heers tussen die onderwysers en leerders.

“Bergsig is nie ’n skool eenkant op ’n eiland nie. Dis ’n skool in die gemeenskap vir die gemeenskap. ’n Skool wat sy gemeenskap dien deur die baie tegniese ambagslui wat hier opgelewer word. As al die spesiale skole se leerders aan die nywerhede van Suid-Afrika onttrek word, sal die land met ’n groot probleem sit.”

Wolmarans sê Bergsig het ambagslui opgelewer wat vandag regoor die wêreld versprei is en hul plek volwaardig in hul onderskeie beroepe volstaan.

“Dit is ’n skool wat geleenthede aan sy leerlinge bied. In Bergsig se bestaan van 62 jaar het dit ’n toekoms aan ongeveer 5 300 leerlinge gebied.”

Bergsig Skool het in 1958 sy deure geopen met 26 leerders, agt onderwysers en vyf tegniese vakke vir seuns en drie vir meisies. Vanjaar is daar 651 leerlinge, 47 onderwysposte en 13 tegniese vakke. Wolmarans sê hy hou van die onmoontlike. “Daar is praters en doeners. Ek is ’n doener wat groot droom en soveel van my groot drome het al waar geword.”

“Dit is ’n skool wat geleenthede aan sy leerlinge bied. In Bergsig se bestaan van 62 jaar het dit ’n toekoms aan ongeveer 5 300 leerlinge gebied.”
Deon Wolmarans

Een van sy grootste passies, waaraan hy ook baie hard gewerk het, was dat Bergsig sy leerders dieselfde geleenthede moet bied as hul maats in enige ander skool. “Dít sodat hulle ook in die toekoms as grootmense met goeie nostalgie gaan terugkyk na hul skoolloopbaan.”

Tans beweeg van Bergsig se leerders terug na hoofstroomskole, waar hulle in die FET-baan (graad 10-12) sukses behaal en hul graad 12 eksamens aflê. “Die inklusiewe skoolbeleid maak dit wel moontlik,” sê Wolmarans.

Hy het verskeie hoogtepunte oor die bietjie meer as vier dekades by Bergsig geniet, onder meer dat die skool se netbalspan vir twee agtereenvolgende jare die beste LSEN skolespan in Suid-Afrika was; die 11 rugbyspelers wat oor die jare in die SA LSEN skolespanne opgeneem is en ‘n leerder wat vir die SA kultuurspan gekies is.

Stigtingsdae was ’n ander hoogtepunt, waar-tydens oudleerlinge, wat suksesvol in die samelewing of sakewêreld staan, genooi is om as sprekers die leerders te motiveer om altyd na hul persoonlike beste te strewe.

Die jaarlikse verkope van leerders se hande-werk aan die publiek sorg ook altyd vir groot opwinding én trots.

Die uitbreiding van die skool se fasiliteite, geboue, personeelgetalle, leerlinggetalle en vakrigtings, is vir Wolmarans ’n groot riem onder die hart. Een van sy laaste projekte, waarvan die planne reeds opgetrek is en teen sy kantoormuur pronk, is dié van ‘n nuwe tegniese vleuel op die Bergsig-kampus.

“Dit is in die pyplyn, ek weet net nie hoe lank die pyplyn is nie. Maar die dag as dié uitbreiding gebeur, sal Bergsig die grootste spesiale skool in Suid-Afrika wees.

“Ek is dankbaar vir die geleentheid wat my gegun is om as hoof van dié besondere skool, ook die gemeenskap te kon dien. Daarom groet ek graag met Bergsig se leuse, Sapiens Prospisit ... die wyse persoon kyk vorentoe.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak UD Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.