Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
UD-Express
Beste wense vir DP se Mnr. Sport
Moolman Olivier, bekende onderwyser en sportorganiseerder van HTS Daniel Pienaar, is aangestel as die skoolhoof by Hoërskool Burgersdorp. Hy sal die posisie vanaf 1 September 2020 vul. Foto:HEILIE COMBRINCK

’n NUWE lewensseisoen begin dié lente vir HTS Daniel Pienaar se Mnr. Sport, Moolman Olivier, wanneer hy op 1 September as skoolhoof by Hoërskool Burgersdorp instap.

“My hart is seer, ek is baie lief vir die plek (DP),” sê Moolman Olivier.

“My weggaan hiervandaan is ’n groot stap die onbekende in, maar dit is ’n beroepsbesluit en uitdaging waarna ek baie uitsien.”

HTS Daniel Pienaar se skoolhoof, Kola du Toit sê, “Moolman sal onthou word as die gentleman of sport. Hy was kompeterend op die sportveld, maar dit was altyd vir hom belangrik dat ons leerders goed toegerus was met die regte sportdrag en dat hulle gedrag op en vanaf die veld onberispelik is.

“Moolies, soos die personeel hom noem, is ’n Tier in murg-en-been. As talentvolle sportman en -organiseerder, het hy sy kennis oor skolesport goed by DP belê, nie net in die tien jaar as afrigter van die eerste rugbyspan nie, maar ook as gholfafrigter vir die afgelope 26 jaar.

“Hy sal onthou word vir die onvergeetlike sporttoere wat hy gereël het, onder andere na Argentinië. Sy laaste reuse projek was verlede jaar se Noord-Suid rugbytoernooi waaraan 32 rugbyspanne by DP kom kragte meet het,” sê Du Toit.

As ervare Geskiedenis en Aard- rykskunde onderwyser, wat vertroud is met alle aspekte van skoolhou, was Olivier vir bykans drie dekades aan HTS Daniel Pienaar verbonde. Hy het saam met die voormalige DP-skoolhoofde Peet Vermaak, Nico Claassen en Sampie Marais gewerk. Hy was onder andere ook ’n koshuisvader.

Olivier sê, “DP is nie net die oudste tegniese skool in die land nie, maar by verre ook die trotste. Ek het fantastiese tye hier beleef met verskeie hoogtepunte.”

Van dié hoogtepunte wat Olivier uitlig is die vier jaar wat DP se rugby onder die top 10 skole in Suid-Afrika was en hul sewe-aan-’n-kant rugby destyds met Jacques Potgieter en Dewald Potgieter wat uitstekend ge-vaar het. Ook dat sy gholfspan vir twee jaar in ’n ry vir SA’s gekwalifi-seer het en dat hy heelwat SA-spelers opgelewer het.

“Dit was goeie jare by DP met goeie skoolhoofde en personeel wat baie ondersteunend is, veral die sekretaresses, sjoe, ek gaan hulle hulp en grappies baie mis.

“Vir Kola (du Toit), DP se skoolhoof wens ek baie sterkte toe, sy is ’n Ystervrou, sy is in staat om die skool na nuwe hoogtes te lei. Dankie vir julle ondersteuning en alles wat julle my toegelaat het om vir die skool te doen.

“Dankie ook aan die gemeenskap en veral Jakes van der Merwe, vir hulle ongelooflike ondersteuning deur die jare,” sê Olivier.

Hy en sy tweelingbroer Morris, is boorlinge van Twee- riviere in die Langkloof.

“Ek gaan my dood verlang vir hom, ek en Morris is soos vinkel en koljander. Ons is onafskeidbaar. Dit gaan ’n groot aanpassing vir ons albei wees. Dit is vir my so lekker om hom daar op die gholfbaan te help waar hy so hard werk,” sê Olivier.

In sy jonger dae was Moolman Olivier ’n talentvolle sportman wat rugby vir SWD en OP gespeel het. Hy het ook in 16 toetse vir Namibië op die veld gedraf. Vir sewe jaar was hy deel van die OP Platteland gholfspan en speel tans vir die premier-liga. Hy was deel van die Uitenhage Gholfklub se span wat die premierliga in 2014 gewen het.

Du Toit sê, “As kollega sal ek Moolman onthou vir sy strewe na perfeksie en merkwaardige oog vir detail wanneer hy aan die stuur van projekte gestaan het. Met daardie eienskappe is dit geen wonder dat Moolman spog met nege hole-in-ones, die meeste nog op Uitenhage se gholfbaan.

“HTS Daniel Pienaar is lief vir Moolies. Ons gaan hom werklik mis. Ons wens hom en sy gesin ’n pragtige toekoms toe.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak UD Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.